

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 February 2007
Dink net ... iemand breek by jou in. Die booswig word gevang, verhoor en toegesluit. Dan, uit die bloute, daag daar polisiemanne by jou voordeur op en sê die einste inbreker sê jy het sy vuurwapen gesteel. Vergesog?
Nee, glad nie. Dit is presies wat met mnr. Gerhard van Schalkwyk van Levubu gebeur het.
Gerhard vertel dat lede van die polisie op Levubu op Woensdag, 17 Januarie, by sy huis opgedaag en hom beveel het om saam met hulle na die polisiestasie te gaan om ‘n verklaring te gaan aflê oor ‘n spesifieke vuurwapen in sy besit.
Heel onkant betrap, het Gerhard geweier, waarna die polisiebeamptes hom gewaarsku het om die volgende dag voor 16:00 by die polisiestasie aan te meld.
Gerhard is toe eers Vrydag polisiestasie toe. Daar aangekom is hy ingelig dat hy in besit is van iemand anders se vuurwapen en dat hy selfs vir die vuurwapen geteken het.
Maar eers ‘n bietjie agtergrond ... ‘n Paar jaar gelede is daar by sy plaashuis ingebreek. Verskeie items is gesteel. Verdagtes is aangekeer, waarna Gerhard sy vuurwapens aan die polisie moes oorhandig as bewysstukke. Twee jaar gelede is die saak afgehandel en die booswigte skuldig bevind. Gerhard het daarna sy vuurwapen teruggekry, nadat hy daarvoor moes gaan teken by die polisiestasie.
Terug by die hede ...
Nadat Gerhard meegedeel is dat hy vir iemand anders se vuurwapen geteken het, het hy uitgevind dat dit wraggies een van die swerkaters is wat by hom ingebreek het, skuldig bevind is en agter tralies sit, wat die klag teen hom gelê het. Hy het toe dadelik die vuurwapenregister nagegaan en aan die polisie uitgewys dat hy net geteken het vir sy eie wapens.
Gerhard sê hy was uiters geskok oor die feit dat die polisie eerder die woord van ‘n veroordeelde misdadiger geglo het, as dié van ‘n slagoffer en wetsgehoorsame burger.
Hy het dadelik sy vuurwapenlisensies na die polisiestasie laat bring, waar hy aan die polisie uitgewys het dat hy werklik die eienaar van die betrokke vuurwapen is. Gerhard sê hy kan nie verstaan waarom die polisie nie eerder vir die veroordeelde misdadiger vir sy lisensies gevra het nie.
In reaksie op die voorval het supt. Ailwei Mushavhanamadi, polisiewoordvoerder in die Vhembe-streek, gesê dit is die polisie se plig om elke klagte te ondersoek en dat enige iemand die reg het om ‘n klag te lê.
Mushavhanamadi sê hy is daarvan oortuig dat die polisiebeamptes professioneel opgetree het en die situasie suksesvol bygelê het. Hy het ook bygevoeg dat, indien die vuurwapen wel aan die misdadiger behoort het, hy dit in elk geval nooit sou terugontvang het nie, aangesien hy deur die hof onbevoeg verklaar is om ‘n vuurwapen te besit. Mushavhanamadi het gesê dat vuurwapens wat van misdadigers afgevat word, deur die Staat vernietig word.

ADVERTISEMENT:
