ADVERTISEMENT:

 

Ouers in duister gelaat oor studente se swak uitslae

 

News  Date: 09 February 2007

 

Die 100% druipsyfer van tegniese studente by Far North Kollege op Makhado (Louis Trichardt) het baie ouers laat kop krap oor wat die moontlike oorsaak hiervan kan wees.

‘n Totaal van 14 tegniese studente het verlede jaar by die kollege ingeskryf, maar nie een van hulle kon hulle vakke slaag nie. Volgens een ouer het die kollege nooit enige antwoorde of redes verskaf oor waarom die tegniese studente so swak presteer het. Die ouer het gesê sy is bekommerd oor die toekoms van haar kind.

Die ouer het aan die Zoutpansberger gesê dat sy in ‘n stadium gedink het die kinders is voorsien van ou handboeke of dat hulle moontlik selfs die verkeerde kurrikulum geskryf het. Sy sê die studente het reeds ‘n N2-eksamen by die kollege geslaag en hulle was verlede jaar besig met hul N3.

"Meeste van die studente het egter nooit hul N2-sertifikate vanaf die kollege ontvang nie en die wat by ander kolleges moet inskryf, sal oor moet begin," beweer die ouer. Sy sê sy het haar kind by Gauteng College gaan inskryf waar sy ingelig is dat die tegniese studente 18 maande se studies verloor het, aangesien hulle sertifikate of portefeuljes nie aan hulle gegee is nie.

Dit blyk egter dat daar net ‘n probleem is ten opsigte van die tegniese studente by die kollege, aangesien die akademiese en besigheidsstudente onderskeidings behaal het.

Die Zoutpansberger het gaan praat met die kollege se waarnemende hoof, mev. Petro van Rooyen, op soek na moontlike redes vir die tegniese studente se swak prestasies.

Mev. Van Rooyen het in antwoord op die studente se swak prestasie gesê dat die groep van 14 na haar mening nie hard genoeg gewerk het nie. Sy het bygevoeg dat die studente hul wiskunde en wetenskap vakke onderskat het en dat hulle dit nie ernstig genoeg opgeneem nie.

Mev. Van Rooyen het gesê daar niks verkeerd met die tegniese studente se kurrikulum nie en dat dit glad nie die rede is vir hul swak prestasies nie. Sy sê baie van die studente het ook eers laat in die jaar met hul kursus begin.

Wat die kwessie rondom die N2-sertifikate betref, het mev. Van Rooyen gesê dat die N2-eksamen ‘n interne eksamen was, sodat die studente met hul N3 kon voortgaan. Sy het gesê dat daar wel swak administrasie by die tegniese-afdeling is, maar dat hulle besig is om die probleme uit te sorteer en dat hulle die vermiste portefeuljes sal opspoor.

Volgens mev. Van Rooyen was nie een van die dosente daarvan bewus was dat die 14 tegniese studente probleme met die kursus ondervind nie. Sy sê die kollege het nou stappe geneem het om die probleem aan te spreek.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines