

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 February 2007
Besigheidseienaars in die Eltivillas-sakekomplek se geduld is besig om vinnig op te raak ten opsigte van die nuwe pad wat voor die sentrum in aanbou is.
Volgens een besigheidsman moes die pad reeds voltooi gewees het, maar helaas is die einde van die projek nog nie eens in sig nie.
Buiten vir die ongerief wat die bouwerk veroorsaak, wat behels dat besoekers aan die sentrum ‘n ompad deur onder meer die taxi-staanplek moet ry, is noodsaaklike kragkabels na die sentrum ook deur konstruksiewerkers beskadig. Na sononder was die sentrum vir ‘n tydperk letterlik in totale duisternis gedompel, tot groot bekommernis van winkeleienaars ten opsigte van die gevaar van inbrake.
Volgens inligting beskikbaar gestel aan die Zoutpansberger, het die kontrakteur wat verantwoordelik is vir die konstruksie van die nuwe pad probleme opgetel, waarna die Makhado Munisipaliteit bouwerk stopgesit het.
Dit is duidelik dat iemand nie sy huiswerk gedoen het alvorens die projek begin het nie. Die bouwerk is stopgesit vanweë verskeie obstruksies in die pad van die kontrakteur waarvoor daar nie voorsiening gemaak is in die kontrak nie. Dit sluit in ‘n nasionale kennisgewingbord, ‘n brandkraan wat klaarblyklik nie geskuif kan word nie en ‘n kragpaal se ankerkabels. Die vraag wat onwillekeurig by baie inwoners en besigheideienaars van dié area opduik, is hoe die munisipaliteit daarin geslaag het om die bouplanne aanvanklik goed te keur.
In antwoord op vrae van die Zoutpansberger het die munisipaliteit se Direkteur: Tegniese Dienste, mnr. Masindi Mapholi, gesê dit was die kontrakteurs se verantwoordelikheid om ‘n impakstudie te doen. Mnr. Mapholi het ook gesê dat die kontrakteurs hul eie ontwerp voorgelê het wat deur die munisipaliteit goedgekeur is. Later, sê mnr. Mapholi, toe die munisipaliteit agterkom daar is probleme, het hulle egter die projek gestop.
As oplossing het mnr. Mapholi gesê daar is voorgestel dat veranderinge aan die oorspronklike ontwerp aangebring en die nuwe pad geskuif word. Hy het bygevoeg dat die beskadigde kragkabels ook reeds herstel is.

ADVERTISEMENT:
