

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 February 2007
"Hulle kan mos nie net bo-oor ons ry nie," sê fietsryer Marietjie Barkhuizen, wat seergekry het toe ‘n bus rakelings verby haar geskuur het.
Marietjie het Donderdagmiddag (8ste) omstreeks 17:30 met die berg opgery na die Mountain View Hotel ter voorbereiding van die Cape Argus se Chapmans Peak en Suikerbossie-gedeeltes.
"Verskeie busse is by my verby, maar aangesien daar twee bane vir die opgaande verkeer is, het hulle meer aan die regterbaan se kant gery wanneer hulle my verbysteek. Toe kom hierdie een groen bus en ry al hoe meer links totdat hy wydsbeen oor die linkerbaan en die noodbaan ry.
"Daar was nie plek vir my én die bus in die noodbaan nie. Ek het besef die bus se agterwiele gaan oor my been en oor my fiets ry."
Marietjie het haar fiets en haar been, met haar voet wat aan die trappedaal vasgehaak het, dadelik uit die pad geruk. In die proses is sy teen die relings vas en het sy ribbes gebreek en verskeie kneusplekke opgedoen. Die voorval het sowat 50 meter verder noord vanaf die Witvlag afdraai op die N1 na Musina gebeur.
‘n Ent verder het Marietjie by sommige van die medefietsryers, Jan Brink en Jaco de Bruin aangesluit. Marietjie het nie dadelik geregistreer wat die aard van haar beserings was nie en het aanvanklik net haar bloeiende vinger raakgesien. Jaco (13), wat heel voor was, is nie deur die bus beïnvloed nie en het geen beserings opgedoen nie. Mnr. Jan Brink (senior) sê dat hy ‘n ent voor die damesfietsryers was en dat hy nie gesien het wat agter hom gebeur nie. Hyself was nie in gevaar wat die spesifieke groen Mabirimisa bus betref nie. Brink sê egter dat busse en karre soms so naby aan fietsryers verbykom dat hulle jou beenhare laat waai.
Marietjie, wat reeds betaal het vir die vervoer na die Kaap en vir die Arguswedren, moet nou vir ses weke rus. Sy sê dat sy fietsry dalk gaan los en haar miskien eerder op gholf gaan toespits. Marietjie het verlede jaar die Kremetart gery.
Mnr. Koos Engelbrecht van die P&L Hardeware Fietryklub sê dat dit die klub se uitgangspunt is om ‘n kultuur van bedagsaamheid te skep.
"Ons het streng reëls waaraan fietsryers moet voldoen en ons probeer om altyd ander padgebruikers in ag te neem. Ons kry egter van tyd tot tyd klagtes van fietsryers wat deurloop onder moedswillige bestuurders van busse, taxi’s en ander voertuie, maar nogtans groei die belangstelling in fietsry en veral in die Kremetartwedren geweldig," sê Engelbrecht. Hy dink ook daaraan om ‘n voorstel in te dien dat die klub in gesprek tree met die verkeersafdeling en busmaatskappye.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
