

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 February 2007
Coin Sekuriteit was Dinsdagoggend weer die teiken van ‘n groep gewapende rowers. Dié keer is twee van die sekuriteitmaatskappy se beamptes in die parkeerarea voor Game op Makhado (Louis Trichardt) van ‘n onbekende bedrag geld beroof.
Die roof het net na 09:00 plaasgevind. Die groep gewapende rowers het op die wagte afgestorm en hulle beveel om die geldtrommel in hul besit aan hulle te oorhandig. Nie ‘n enkele skoot is afgevuur nie.
Volgens die polisiewoordvoerder van die Vhembe-streek, supt. Ailwei Mushavhanamadi, het die vier rowers die geldtrommels gegryp en aanvanklik te voet op die vluggeslaan, maar later in ‘n voertuig gespring wat ‘n entjie weg geparkeer is. Die voertuig wat deur die rowers gebruik is, is later naby die spoorwegstasie opgespoor.
Mushavhanamadi het aan die Zoutpansberger gesê dat die polisie inligting ontvang dat die vier verdagtes vermoedelik in twee ander voertuie verder gevlug het. Die beskrywing van die twee voertuie is gegee as ‘n grys BMW en ‘n Wit Toyota Corolla sonder nommerplate.
Volgens Mushavhanamadi ondersoek die polisie tans die roof en die vermoede word nie uitgesluit dat die wagte moontlik betrokke kon wees nie. Hy het gesê die voertuig wat herwin is, is ‘n tyd gelede in Garstfontein gesteel.
Mushavhanamadi het lede van die publiek versoek om na vore te kom indien hulle moontlik inligting het wat kan lei tot die aankeer van die verdagtes.

ADVERTISEMENT:
