ADVERTISEMENT:

 

Ouma Francis van der Merwe (98).

Ouma Francis se mooi stem vir altyd stil

 

News  Date: 16 February 2007

 

Ouma Francis van der Merwe, een van die oudste inwoners van Ons Tuiste op Makhado (Louis Trichardt) is verlede Sondag in die ouderdom van 98 jaar oorlede.

Ouma Francis was ‘n nooi Van Niekerk, wat as die jongste van 12 kinders naby De Wetsdorp in die Vrystaat gebore is in ‘n gesin wat vroeg in die vorige eeu per ossewa getrek het na die Wolkberge, waar hulle hulle op die plase Good Hope en Hoog-en-Droog tussen die destydse Pietersburg en Haenertsburg gevestig het.

Sy is getroud met Phil van der Merwe, ‘n ou skoolmaat uit die Hoër Volkskool op Heidelberg in Transvaal, wat in die jare veertig van die vorige eeu onder meer skoolhoof by Mara Buysdorp en tot in die jare 60 ook skoolhoof van die toenertydse Indiërskool (die huidige Eltivillas skool) op Louis Trichardt was.

Ouma Francis het ‘n mooi sangstem gehad en was ook lief om kinders te leer sing. Sy het in die jare 30 die eerste bundel sangspele en dansspele vir kinders in Afrikaans laat verskyn en was ook behulpsaam met die afrigting vir die heel eerste skoolkonserte by die betrokke skole.

Tydens die jare op Buysdorp het sy verskeie artikels oor hierdie gemeenskap se taal, gebruike en kultuur geskryf vir die Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal, wat aan die Universiteit van die Witwatersrand uitgegee is deur prof. Abel Coetzee. In een van die bydraes het sy die bykans vergete ou Voortrekkermelodie van die bekende gesang "Op berge en in dale" aangeteken, soos dit tot vandag nog deur die Buyse gesing word.

Sy was al die jare ‘n getroue lid van die kerkkore van die Louis Trichardt en later ook Soutpansberg-gemeentes van die NG kerk en het ook vir etlike jare as kategeet by die Soutpansberg-gemeente diens gedoen.

Die egpaar het in die jare 60 op Die Strand afgetree, maar later weer vir ‘n paar jaar op Louis Trichardt by hul een seun gebly.

Ouma Francis is die afgelope twee jaar versorg in Ons Tuiste se afdeling vir verswakte bejaardes.

Haar begrafnis is Donderdag (15de) om 11:00 in die Louis Trichardt begraafplaas. ‘n Roudiens word daarna om 14:00 by Ons Tuiste gelei deur ds. Pretorius.

Ouma Francis laat haar vyf kinders, sewe kleinkinders en sewe agterkleinkinders agter.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines