ADVERTISEMENT:

 

Die hoefysters word bespreek en vergelyk met ‘n skets van ‘n Europese hoefyster. Van links is mnre. Hannes Dafel, Charles Leach, Ben Holtzkamf, Cobus Holtzkamf en Henk Dafel.

Historici opgewonde oor argeologiese vonds

 

News  Date: 16 February 2007

 

‘n Argeologiese vonds van ‘n groot aantal ou perdehoefysters het ‘n opskudding onder plaaslike kenners veroorsaak en die publiek word versoek om te help met hulle kennis en herinneringe van die terrein.

Die perdeskoene is gevind toe uitgrawings gemaak is deur die Dafel-broers by bouwerke in die verlenging van Douthwaitstraat, suidwes van die ou tronk in Makhado (Louis Trichardt).

Mnre. Hannes en Henk Dafel het dadelik die hoefysters na mnr. Charles Leach geneem omdat hy bekend is vir sy belangstelling in en kennis van die omgewing se geskiedenis, veral met betrekking tot die Anglo Boereoorlog tydperk.

Leach reken dat daar ‘n paar moontlikhede vir die tydperk is waaruit die hoefysters dateer. Hy doen ‘n beroep op die gemeenskap om na vore te kom met hul kennis van die stuk grond waar die hoefysters gevind is en wat alles daar plaasgevind het.

"Ons sit hier op geskiedenis!" het Leach verlede week gesê. "Stootskrapers en geskiedenis werk gewoonlik nie lekker saam nie, daarom is ons so dankbaar teenoor die Dafels wat die vonds bewaar het." Hulle het ook ‘n vullisgat oopgestoot waaruit historiese items gekom het en plaaslike kenner mnr. Gary Watkins is al besig om die items te bestudeer.

Intussen werk al wat ‘n kenner en belangstellende is saam. Mnr. Cobus Holtzkampf is besig om waardevolle inligting deur middel van die Internet te versamel. Sy vader, mnr. Ben Holtzkampf, het kom wys dat die ou polisiestasie geleë was naby die groot boom agter die tronk. Mnr. Danie Louw, plaaslike perdekenner, het kom hand bysit met die ontleding van die hoefysters. Mnr. Pikkie Truter het vertel dat daar naby die stroompie wat aan die suidekant van die gholfbaan uitloop ‘n plek moet wees waar ‘n sementsirkel is waar wawiele reggemaak is. Mnr. Cobus Holtzkampf het dadelik planne beraam om die terrein te gaan fynkam.

"Die belangrikste is nou dat elkeen in die gemeenskap vir ons vertel wat hulle kan onthou van hierdie terrein," sê Leach.

Wat die datering van die hoefysters betref, is die een moontlikheid dat die hoefysters verband hou met Kommandant-Generaal Piet Joubert se ruiters wat die Venda-oorlog teen Makhado gevoer het. Nog ‘n moontlikheid is dat die perdeskoene uit die Anglo Boereoorlog (1899 tot 1902) dateer. Dit kan ook wees dat die Suid-Afrikaanse Polisie (SA Constabulary) of die latere Transvaalse Polisie ‘n smidswinkel op hierdie terrein gehad het.

Mnr. Danie Louw het gesien dat die hoefysters nie heeltemal lyk soos dié wat hy van die ou boere ken nie. Daar is ook ysters met gate op die punte, wat onbekend is. ‘n Tekening en beskrywing in Hollands is via die Internet gevind wat wys dat die gate gebruik is om ‘studs’ in te draai . Dit is deur Europese perde gebruik vir glibberige toestande soos modder en sneeu.

Daar is ongeveer 200 perdeskoene uitgegrawe.

Daar is ook ander items uitgegrawe, soos ‘n stuk ysterpen. Dit het gelyk na ‘n lunspen waaraan die lunsriem van die wa vasgemaak is en wat al die ghries op gekry het.

"Daarom sê die spreekwoord so vuil soos ‘n lunsriem," sê mnr. Louw. Tussen die ysters wat uitgegrawe, is daar opmerklik meer voorysters as agterysters. Daar is ook kleiner ysters vir muile. "Die smede wat hierdie ysters gemaak het, het hulle werk geken," sê Louw.

Charles Leach het gesê dat daar meer as 700 000 perde gevrek het in die Anglo Boereoorlog, wat bekend staan as die duurste oorlog ter wêreld wat perdevrektes aanbetref.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines