ADVERTISEMENT:

 

‘n Foto van die jong Berghaan. Pretorius sê daar moet gelet word op hoe die voël se vlerkpunte beskadig is.

Weldoeners doen soms meer skade as goed

 

News  Date: 16 February 2007

 

Die onlangse vonds van ‘n Berghaan en Afrikaanse Jagarend in privaat besit, met beide voëls se status in die Rooidataboek as kwesbaar aangegee, het weereens die vraag laat ontstaan of mense nie dalk meer skade as goed aanrig wanneer hulle besluit om vir sulke voëls te sorg nie.

"Ons beweeg al diep in die huidige broeiseisoen van ons inheemse voëls en steeds loop ons kuikens raak wat op een of ander wyse op die grond beland het. Ons menslike natuur skop dadelik in met ‘Ek moet hierdie voëltjie help’ wat gewoonlik daarop uitloop dat ons graag die voëltjie wil versorg," sê mnr. David Pretorius van die Schoemansdal Omgewingsopvoedingsentrum net buite Makhado (Louis Trichardt).

Die waarheid is egter dat die beste versorging vir dié jong kuikens steeds net deur die oorspronklike ouerpaar gebied kan word.

"Dit is belangrik om te weet dat wanneer ons hierdie voëltjie op die grond optel, die nes en ouers heel moontlik in die omgewing is. Die beste raad in so ‘n geval is om die kuiken op ‘n veilige plek neer te sit waar huisdiere, soos katte en honde, dit nie kan bykom nie. Die ouerpaar sal wel die kuiken vind en verder versorg. Indien die nessie gesien kan word, probeer om die kuiken terug te plaas in die nes," sê Pretorius. Hy het mense die versekering gegee dat die ouerpaar nie die kuiken sal verwerp nie, al het ‘n persoon aan die kuiken geraak. Pretorius het ook genoem dat, indien die ouerpaar glad nie gevind kan word nie, daar geskakel moet word met ‘n spesialis op die gebied.

"Ons moet net nooit dink as ons ‘n voël gehelp het, dat dit nou jou besitting word nie. Dit is onwettig om enige inheemse dier of voël aan te hou sonder die nodige permit, ongeag omstandighede," sê Pretorius.

Pretorius sê die Limpopo Provinsie is veral bekend vir sy ryke roofvoëllewe.

"Die afgelope drie maande het ek die ervaring van twee jong roofvoëls gedeel en beide is ware arende, dit wil sê arende wat se bene met vere bedek is. Die jong voëls, ‘n Berghaan en Afrikaanse Jagarend, is vir ‘n onbepaalde tydperk aangehou en versorg, hetsy uit liefde, sorg, onkunde of nood. Die hartseer hiervan is egter dat beide hierdie jong voëls na etlike jare se duur rehabilitasie en suksesvolle vrylating, nooit weer in die natuur sal broei nie. Hierdie voëls is eintlik verlore vir die natuur en samelewing," sê Pretorius. Hy verduidelik dat inprenting daartoe lei dat die roofvoël homself sien as ‘n mens en nie as ’n voël nie, en so nie sy eie spesie kan herken om mee te paar en te broei nie.

"Hierdie voëls is ook monogaam, wat beteken dat hul slegs een keer in hul leeftyd ‘n lewensmaat neem. Dit is daarom baie belangrik om, wanneer so ‘n voël in nood gevind word, die voël so gou moontlik by professionele sorg en rehabilitasie te laat uitkom," sê Pretorius.

Pretorius sê dit gebeur soms ook, veral in die woongebiede waar daar met wedvlugduiwe geboer word, dat van die sperwerspesies wat op voëls jagmaak in die omgewing is.

"Soos dit gaan met enige opportunis, sal hierdie sperwer/valke ook op van die duiwe probeer jagmaak. Kontak ons gerus in so ‘n geval; ons sal die voël laat vang en elders gaan vrylaat," sê Pretorius.

Vir meer inligting oor bogenoemde, skakel David by tel. 082 325 1452, Johan van Wyk by 82 924 7961, Etienne Hendriks by 082 881 0821 of Kobus Pienaar by 082 809 8875.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines