

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 February 2007
‘n Baie benoude inwoner het met groot verligting dank uitgespreek teenoor die Soutpansberg Dorpswag wat die afgelope week gehelp het om ‘n motordief te verhoed om met sy voertuig op die vlug te slaan.
Saterdag (10de), omstreeks 03:00, het ‘n benoude mnr. Jaco Esterhuizen die dorpswag daarvan ingelig dat iemand sy voertuig gesteel het. Later is sy voertuig in Dassiestraat opgemerk deur ‘n patrollievoertuig van die dorpswag.
Volgens dorpswaglid Alex Potgieter, wat die oggend saam met rymaat Johan Steyn aan diens was, het die voertuig vir hom verdag voorgekom. Hy het aan Johan opgemerk dat die voertuig baie lyk soos die van ‘n vriend s’n.
Toe hulle nader ry, het die insittende van die voertuig uitgespring en in ‘n erf ingevlug. Johan is agter die man aan, maar het die jaagtog gewonne gegee toe hy deur ‘n klein brakkie aan die kuit gebyt is.
Met die polisie se aankoms op die toneel, is die voertuig na die polisiestasie gesleep. Johan moes steke kry vir die bytwond aan sy kuit. Hy was egter nie al een wat seergekry het nie. Verdere ondersoek het gewys dat die booswig ook ‘n sny weg het, toe hy oor ‘n palisadeheining gespring het.
Jaco was baie verlig dat sy voertuig herwin is en kon nie ophou om die lede van die dorpswag te bedank wat hom bygestaan het nie. Hy vertel dat hy kuiermense die Vrydagaand gehad het en hulle versoek het om hul voertuig binne sy erf te parkeer. Hyself het sy voertuig buite die erf voor sy kamervenster parkeer. Omstreeks 03:00 het Jaco wakker geword en gesien sy voertuig is weg.
Jaco sê die booswig, wat ongelukkig weggekom het, het eers sy deurslot gebreek, waarna hy die voertuig begin wegstoot het. Die dief het toe met die immobiliseerder gesukkel en dit was toe dat die dorpswaglede op hom afgekom het.

ADVERTISEMENT:
