

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 February 2007
Na 20 jaar in die omgewing gaan egpaar Ben en Willie van der Waal eers ‘n paar jaar naby Katima Mulilo woon waar prof. Ben sy kundigheid met Namibië en ander Afrikalande gaan deel.
Prof. Van der Waal gaan vir twee en ‘n half jaar deelneem aan ‘n visprojek in Namibië. Vis is vir die Ovango, Okavango en Caprivi van die allergrootste belang. Die mense daar leef van vis.
"Ons in Afrika moet leer om te boer met vis; ons kan nie net vang en eksploiteer nie, ons moet ook produseer. In die Caprivi maak ‘n derde van die mense hulle bestaan uit die visbedryf. Die vrouens gaan vang elke dag vis as kos vir hul gesin. Daar word egter verkeerde apparate en tegnieke gebruik, daar is oorontginning van die visbronne en daar is ‘n konflik tussen tradisionele bestuur en die moderne wetgewing. Ons gaan indringend kyk na die hele idee van visvang," sê Van der Waal. Hy sê dat dit belangrik is dat ‘n akwakultuur geskep word, want die hoeveelheid vis verhoog nie, net die aantal visvangers.
"Ons sal ook baie met mense te doen hê, want hulle moet oortuig word dat die visbestuur op ‘n beter basis moet geskied. Daar is ook vissiektes wat moontlik die gevolg van rioolbesoedeling kan wees. Dit moet ondersoek word." Van der Waal is ook baie opgewonde oor die oorgrensparke in daardie omgewing wat nou ‘n realiteit word.
Ben en Willie, wat pas uit die onderwys afgetree het, gaan ten tye van die projek op ‘n visplaas woon, saam met ontwikkelaars van tien nie-regeringsorganisasies. Hulle kamp voorlopig uit binne in hul huis daar totdat hul situasie so is dat hulle hul meubels kan kom haal.
Katima is nie vreemd vir die Van der Waals nie, want hulle het in die sewentigerjare ‘n paar jaar daar gewoon. Van der Waal het ook onder andere al meegewerk aan ekspedisies om visversamelings van die Bo-Zambesi te doen. Die projek het werk in Caprivi, Zimbabwe, Zambië, Namibië en Botswana ingesluit. Hierdie projek het hy onderneem in 2003.
Van der Waal is ook ‘n bekende in die gemeenskap wat hom altyd beywer vir die behoorlike gebruik van hulpbronne.
"Ek hoop julle sal goed na julle hulpbronne, veral water, kyk. Water gaan steeds ‘n groter faktor in die omgewing word vanweë die toenemende verdamping. Verder is ek opgewonde oor die ontwikkeling van die biosfeer reservaat in die Soutpansberg. Ons groet almal en hoop om na twee en ‘n half jaar weer na Louis Trichardt terug te keer." Van der Waal behou sy pos by Univen en ook sy plot, Van der Waal se Kraal.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
