ADVERTISEMENT:

 

Op die oog af ‘n brand op die rand van ‘n skilderagtige watergat. Die oënskynlike vleilandgebied is in werklikheid die mees suidelike gedeelte van die munisipale vullisstortingsterrein. ‘n Probleembrand op die terrein het verskeie besware oor die ligging en bedryf van die terrein ook weer laat opvlam.

Brand by vullisgate laat humeure opvlam

 

News  Date: 01 October 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – ‘n Brand wat reeds etlike dae lank voortduur op die munisipale stortingsterrein, is vermoedelik opsetlik deur kwaaddoeners gestig.

Digte rookwalms, wat vermoedelik deels afkomstig is van brandende buitebande, het by tye oor die terrein en omgewing gehang.

‘n Munisipale woordvoerder, mnr. Lampie Schoeman, Hoof: Gemeenskapsdienste, het vandeesweek by navraag gesê die brand het gelyktydig aan verskillende fronte op die stortingsterrein begin en is deur sterk wind oor die terrein versprei. Pogings om die brand te blus word bemoeilik en vertraag deur die heersende sterk wind en die afwesigheid van genoeg los grond om die vlamme mee te smoor.

Die brand en gepaardgaande stootskraperaksie om die brand te blus, het opnuut besware laat opgaan oor die ligging van die terrein - reg langs bewoonde kleinhoewes en digby die Eltivillas woongebied - en die negatiewe impak op veral die standhoudende watervlak aan die suidelike punt van die terrein. Die betreklik skilderagtige gedeelte, wat al as ‘n bedreigde vleiland beskryf is, is geoormerk om in sy geheel opgevul en oordek te word.

Mnr. Schoeman sê dit is nie korrek om na die betrokke gedeelte as ‘n vleiland te verwys nie. Hy sê ‘n volledige geo-hidrologiese ondersoek is op die terrein gedoen, voordat dit geskik verklaar en gelisensieer is as ‘n munisipale stortingsterrein. Die terrein voldoen in elke opsig aan die betrokke vereistes. Daar is ook twee toetsboorgate op die terrein, wat gereeld gemoniteer word om vas te stel of daar enige tekens van uitloging is.

Die stortingsterrein is in sy geheel binne in ‘n uitgewerkte gruisgroef aangelê. Dit is van die huidige ingang aan die noordelike kant met verdrag deur vullis opgevul en met grond oordek. Die water wat aan die suidekant opdam is die gedeelte van die ou gruisgat wat nog opgevul moet word.

Mnr. Schoeman sê die brand op die stortingsterrein is inderdaad ‘n ernstige probleem. Daar is aanduidings dat dit op tussen agt en 10 verskillende plekke op die terrein opsetlik aan die brand gesteek is, vermoedelik deur onwettige rondlopers wat dikwels skuilplek en wegsteekplekke op naasliggende kleinhoewes vind.

Hy het ‘n beroep op die betrokke kleinhoewe-eienaars gedoen om behulpsaam te wees om onwettiges uit die terrein te hou.

Mnr. Schoeman het gesê met verskerpte beheer is verskeie mense onlangs aangekeer wat op die terrein oortree het.

“Ons laai hulle op, maar oor twee dae is hulle weer terug.”

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines