ADVERTISEMENT:

 

Is dit nou Makhado of Louis Trichardt?

 

News  Date: 23 February 2007

 

Daar sal nog ongeveer twee weke gewag moet word voordat mense sal weet of die dorp se naam weer Louis Trichardt is of nie.

Die appélsaak het op Maandag (19de) in die appèlhof in Bloemfontein voor ‘n volle regbank van vyf regters gedien. Die saak het die nasionale media gehaal en ander dorpe en stede wat ook in die naamsveranderingbootjie is, sit oorgehaal om te hoor wat hierdie toetssaak se uitslag sal wees.

Die Voorsittersvereniging (VV) het aansoek gedoen om verlof tot appél nadat hulle hofaansoek om die naamsverandering van die dorp te hersien, in Regter MK Legodi se uitspraak op 8 September, 2005, met koste van die hand gewys is in die hooggeregshof in Pretoria.

Hierdie week se appélsaak het ‘n bietjie meer as twee ure geduur. Die regbank was saamgestel uit van die mees senior regters in die land. Hulle was hoofregter Craig Howie en regters Brand, Farlam, Jafta en Cachalia.

Na afloop van die saak het mnr. André Naudé, voorsitter van die VV en ook prokureur in die saak, gesê dat hy geen kommentaar kan lewer nie, aangesien die saak sub judice is.

Me. Inga Gilfillan, een van die groep wat die saak bygewoon het, sê dat sy tevrede voel.

"Die tipe vrae wat die regters aan die advokate gevra het, sê vir ons dat konsultasie belangrik is waar die gemeenskap geraak word. Die hoofsaak van die gesprek was maar oor konsultasie en die gemeenskap se reg oor sake wat hul affekteer," sê me. Gilfillan. Daar is wenkbroue gelig oor die lae konsultasiesyfer van sowat een persentasiepunt.

Die advokaat vir die VV, adv. Denny du Preez, asook die advokaat vir die staat, senior advokaat Sam Maritz, het vooraf hul betooghoofde ingehandig. Die regters het alles individueel vooraf bestudeer en gedurende die hofprosedure vrae aan die advokate gestel.

Na die hofsaak sal die vyf regters saam die saak bestudeer en ‘n uitspraak lewer, met volledige redes.

"Dit sal hopelik oor twee weke wees," het mnr. Naudé gesê.

"Na aanleiding van adv. Maritz se betoog dat die naamsverandering in die lig van transformasie gehandhaaf moet word, het een van die regters gevra of daar dan elke vier jaar met ‘n nuwe munisipale bestuur ‘n nuwe besluit kan kom sonder dat die gemeenskap geraadpleeg word. Dit sou impliseer dat daar elke vier of vyf jaar ‘n nuwe naam vir die dorp kan kom," sê me. Gilfillan.

Die naam Makhado is in die Staatskoerant gepubliseer in die middel van 2003. Daar is binne die voorgeskrewe beswaartydperk van 30 dae beswaar aangeteken, waarna die reg sy stadige, maar sekere, loop begin neem het.

Me. Gilfillan sê dat sy beter voel na die appèlsaak as na die hooggeregshofsaak wat sy ook volledig bygewoon het.

"In hierdie saak was daar goeie, hoë akademiese redenasies. Ons vertrou dat reg en geregtigheid sal seëvier," sê Gilfillan.

Intussen gaan die Aksiegroep Potchefstroom en die menseregtegroep, AfriForum, saamwerk en dieselfde regspan gebruik vir moontlike regstappe om die name van Potchefstroom en Pretoria te behou. AfriForum se uitvoerende bestuurder, mnr. Kallie Kriel, het gesê dat beide plekke se naamsveranderingsprosesse deur gebrek aan die publiek se deelname gekenmerk is.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines