

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 February 2007
Boere in die Tshipise-gebied noord van die Soutpansberg hoop dat ‘n onlangse gesprek met die bestuur van die Makhado Munisipaliteit ‘n einde sal bring aan die kroniese kragonderbrekings wat die area verlede jaar geteister het.
Volgens mnr. Christo Vorster van die Tshipise Boerevereniging was daar verlede jaar 411 kragonderbreking op die netwerk.
"Hulle (die munisipaliteit) het nie materiaal om foute reg te maak as iets gebeur nie. Ons het ‘n kontrakteur wat help om die krag vinnig te herstel as dit onderbreek word, maar as die persoon nie hier is nie, kan dit tot vier ure neem voordat die kragtoevoer weer herstel is," sê Vorster. Intussen is daar ‘n verlies aan inkomste en produksie.
Vorster sê dit is nie net boere wat deur die probleem geraak word nie, maar ook besighede soos die Aventura Tshipise-oord. Hy sê hulle het reeds verlede jaar probeer om met die munisipaliteit in gesprek te tree.
"Ja, ons het met hulle gaan praat, maar toe ons daar kom was die munisipale bestuur nie daar nie, net die amptenare. Dit is hoekom ons besluit het om vroeg hierdie jaar weer met hulle te gaan praat. Hierdie keer het ons die munisipale bestuurder gevra om self ‘n datum vas te stel sodat ons daarby kan inval en sy nie weer kan sê sy kan nie die vergadering bywoon nie."
Die tweede vergadering, saam met verteenwoordigers van die Demokratiese Alliansie, het op 23 Januarie by die munisipaliteit plaasgevind. Vorster sê verskeie punte is tydens die vergadering geopper en aan die munisipale bestuurder, me. Faith Muthambi, uitgewys. Dit het ingesluit die houding van personeel teenoor boere.
"Hulle is nog steeds besig om die apartheidstryd te veg," het Vorster gesê.
Daarbenewens is daar genoem dat die munisipaliteit se store nie voorraad dra nie.
"As iets breek, kan dit nie reggemaak word nie. ‘n Uitvloeisel hiervan is ook dat die netwerk nie in stand gehou kan word nie. Dit is nie ons skuld die munisipaliteit het hul finansies wanbestuur nie."
Vorster en baie ander van sy mede-boere wag nou in spanning om te sien of daar ‘n verbetering in 2007 gaan wees. Herhaalde pogings om die afgelope week kommentaar te verkry by me. Muthambi oor die vergadering was vrugteloos
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
