

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 March 2007
‘n Versekering is hierdie week deur die Makhado Munisipaliteit gegee dat die dorp se drinkwater heeltemal veilig is, al lyk dit op die oog (en soms ook die neus) af, nie bo verdenking nie.
"Dit stink, maar jy kan dit drink," het een inwoner skalks opgemerk.
Die afgelope tyd neem baie mense in die gemeenskap waar dat die water uit die kraan spierwit is en kalkerig lyk. Mnr. Masindi Mapholi, die munisipaliteit se direkteur tegniese dienste, het Maandag die gemeenskap verseker dat die water heeltemal skoon en geskik vir menslike gebruik is.
"Die water van ons munisipaliteit het niks fout nie. Dit is van wêreldklas gehalte," het mnr. Mapholi verseker. Hy het gesê dat die witterige kleur toe te skryf is aan ekstra drukking wat deur die nuwe kleppe veroorsaak word. Hy het gesê dat daar opgelet kan word dat die wit kleur gou-gou verdwyn.
Die direkteur het ook onomwonde gesê dat enige maaggogga wat die rondte mag doen, niks te doen het met die water nie. Hy het mense uitgenooi om watermonsters te bring vir toetsing.
Plaaslike apteker mnr. Leon Fensham het ook waargeneem dat die gevalle van naarheid en braking wat voorkom, nie direk met die water verbind kan word nie, aangesien mense wat die munisipale water drink, deurloop, sowel as mense wat waterfilters gebruik.
Inwoners van Presidentstraat het hierdie week gesê dat hulle water "vieslik" is.
"Dit is ook partykeer of dit daardie vrot waterreuk het. Die laaste twee weke is die water ‘n vuil bruin en dit maak ook ‘n bruin afsaksel. Dit lyk glad nie gaaf nie," sê inwoners. Die betrokkenes het gesê dat hulle glad nie meer van die water drink nie.
Nog ‘n inwoner, hierdie keer van Makhadopark, het gesê dat hulle water in die algemeen maar bruinerig en nie te lekker is nie.
"Ons drink dit nie, ons drink maar koffie of sap en ons gooi borrelbadmiddel in die badwater sodat ons nie die bruin moet sien nie."
Mnr. Mapholi het gesê dat daar aliminiumsulfaat by die rou water gevoeg word om die water te verhelder en chloriene by die gesuiwerde water om die water te disinfekteer.
Te midde van die besorgdheid oor die kwaliteit van die water, is daar ook groot kommer oor die infrastruktuur. Die aanhoudende bars van pype gee die indruk dat die infrastruktuur gedaan is.
"Dit lyk of die munisipaliteit net heeltyd besig is om laslappiewerk te doen," sê een belastingbetaler.
Daar is baie gevalle genoem van water wat die afgelope twee weke uitstroom by pype wat bars.
Stubbsstraat het na bewering deurgeloop, asook Breda- en Burgerstraat, Kroghstraat by die hoofingang van die munisipaliteit, by Vorster- en Andersonstraat, asook in die nuwe uitbreiding in Impalastraat. Mnr. Mapholi het bevestig dat die pype gedaan is en dat net die stukkende gedeeltes telkens vervang word met PVC pype. Ander probleme het ook onder meer ingesluit ‘n geval in Eltivillas waar probleme Maandag ondervind is toe stormwater nie kon dreineer nie aangesien die stormwaterdreineringspype beskadig is met die bou van die nuwe pad voor die winkelsentrum.
Mnr. Mapholi het gesê dat die reservoirs tans op 50% staan.
"Ten tye van die noodsaaklike vervanging van die lugkleppe en die warm weer, het die reservoirs gesak tot 30%, maar is weer terug op 50%. Die kleppe is nou weer in top kondisie," het Mapholi gesê.
Wat die waterverbinding met die Nandonidam betref, waarna almal so uitsien, moet daar egter nog geduldig gewag word, aangesien die projek in die ontwerpfase is.
"Die implementeringsfase is beplan vir die 2007/8 finansiële jaar. Die projek val onder die Vhembe Distrik en hulle het die konsulterende ingenieur Rendeals4 aangestel, wat weer die subkontrakteur, Africon, aangestel het," het Mapholi gesê. Hy het die publiek daaraan herinner dat die waterbeperkings steeds geld.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
