

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 March 2007
Mnr. Riaan Engelbrecht, ‘n welbekende inwoner en goudsmid op Makhado (Louis Trichardt), is Woensdagoggend ernstig beseer in ‘n motorfietsongeluk in die sentrale sakegebied.
Die ongeluk het net na 10:00 op die hoek van Landdros- en Kroghstraat plaasgevind. Engelbrecht het met sy motorfiets in ‘n noordelike rigting in Kroghstraat gery, toe ‘n bakkie vanuit Landdrosstraat voor hom ingedraai het. Die bestuurder van die bakkie beweer sy sig is belemmer deur ‘n voertuig wat in ‘n "geen parkering" area gestaan het en dat hy nie Engelbrecht se motorfiets gesien het nie. Die polisie ondersoek die ongeluk.
Later die dag het Engelbrecht se broer, Attie, aan die Zoutpansberger gesê dat Riaan se linkerbeen ernstig beskadig is. Die been het klaarblyklik tussen die bakkie en motorfiets beland. In die proses het die been verskeie frakture opgedoen. Sy linkerarm is ook beseer.
Engelbrecht is in die Zoutpansberg Privaat Hospitaal opgeneem vir mediese behandeling. Teen druktyd sou hy na Polokwane afgevoer word vir verdere behandeling. Volgens Attie is sy toestand goed, alhoewel hy seergekry het.

ADVERTISEMENT:
