

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 March 2007
Die landbougemeenskap hou die huidige belowende weerstoestande gretig dop, in die hoop dat ‘n verwoestende winterdroogte nog gedeeltelik afgeweer kan word.
Die voorsitter van die TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, het lede aangemoedig om nou reeds voorsorg te tref vir die verwagte ernstige droogtetoestande tydens die komende wintermaande. Hy sê indien goeie, wydverspreide reën nie voor die einde van Maart val nie, groot probleme vir alle boere in die Noordstreek verwag kan word.
In ‘n onlangse opname is gevind dat daar, met die oog op die verwagte droogte, geen graanaanplantings aangemeld is in die Soutpansberg area nie. Ernstige probleme word vir die winter verwag.
Die kondisie van vee in die Soutpansberg is nog redelik. Noord van die berg begin boere al kla dat die kondisie van vee besig is om te verswak en dat beespryse besig is om te daal. In dieselfde area is die weiding nie goed nie. In die westelike gedeelte van die gebied is die weiding reeds in ‘n swak toestand. Die veld kan egter nog herstel indien dit voor die einde van Maart algemeen goed reën.
Op die oomblik word daar nog nie oor die beskikbaarheid van water gekla nie. Ondergrondse waters hou nog redelik, maar boere plant nie baie aan nie, omdat water vir besproeiing ‘n probleem is.
Elders in die provinsie word ook droogteprobleme ondervind.
Op Dendron is daar al die afgelope twee maande waterprobleme. Boorgate by sommige boere het reeds opgedroog. Een boer moes sy plaas verkoop omdat dit nou net vir wildboerdery geskik is. Hy moes ‘n ander plaas aanskaf wat geskik is vir besproeiing.
Geen rivier in die gebied het al afgekom en sterk geloop nie.
Elders in die Polokwane area is weiding in groot gedeeltes alreeds swak. Op sommige plekke was die reënval vir die hele seisoen nie meer as 70mm nie. Die kondisie van vee is in die soetveldgebiede nog mooi, maar groot kommer heers vir die winter.
Boere wat in die Mokopane-area besproei, kla dat die geweldige hitte alles uitdroog. In groot gedeeltes van die droë-landgebiede het geen aanplantings plaasgevind nie. Die kondisie van vee is nog goed, maar weiding is vinnig besig om te verswak.
In die Waterberg/Warmbad-area, waar mielies en sonneblom aangeplant word, het skade aan gesaaides reeds voorgekom as gevolg van te min reën. Baie boere het reeds begin om mielies in te sny as gevolg van die droogte. Boere wat droëland aanplantings doen, kon nog nie plant nie. In die area is die kondisie van vee nog redelik, maar kommer heers ook hier oor winterweiding. Die weiding is nou reeds redelik tot swak.
In die Thabazimbi-gebied, waar gewoonlik sonneblom op droëland geplant word, gaan dit in die algemeen moeilik. By Northam is nog geen aanplantings gedoen nie. By Dwaalboom is lande voorberei, maar niks is aangeplant nie, omdat dit te droog is. Die kondisie van diere is nog goed en weiding is nog goed weens die goeie voorsomerreëns.
In die Koedoessrand-omgewing is geen graanaanplantings gedoen nie. Die kondisie van vee is nog redelik tot goed, maar die weiding is reeds swak en die bosveld is baie droog. Op plekke is reeds geen weiding meer beskikbaar nie. Die riviere in dié gebied het almal geloop en plaasdamme is vol, maar op plekke is boorgate besig om op te droog. Boere wat water het, het groente onder besproeiing aangeplant.
In die Ellisrasgebied het swak reënval skade aan mielie-aanplantings veroorsaak. Beeste en wild begin maer word. Weidingstoestande is nog redelik, maar begin vinnig agteruitgaan. Veral in Stokpoort en Steenbokpan word groot probleme in die winter verwag. In dié omgewing is die ondergrondse waters nog redelik.
In die Vaalwater-omgewing droog saadmielies, tabak, groente en lusern uit weens die geweldige hitte. Die saadmielie-oes word reeds ingehaal sonder ernstige skade. By die droëlandaanplantings is die skade reeds gedoen. Die water is nou op en geen nuwe aanplantings word verwag nie.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
