

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 March 2007
Die dorp se skou wat al die afgelope dertig jaar aangebied is, is vernietig deur politieke inmenging.
"Hou op met politieke inmenging in private inisiatiewe. Een van die beste vier skoue in die land is nou vernietig," het mnr. André Naudé, voorsitter van die Voorsittersvereniging gesê tydens ‘n vergadering van gemeenskapsorganisasies met die munisipale bestuurder en direkteure.
Die organiseerders van die skou, wat die afgelope tyd bekendgestaan het as die Zoutpansberg Expo, het onttrek. Op die munisipale skouterrein sal daar dus nie vanjaar ‘n skou aangebied word nie.
Me Faith Muthambi, munisipale bestuurder, het tydens die vergadering op 28 Februarie gesê dat sy ‘n brief van die organiseerders in die verband ontvang het en dat die munisipaliteit nie die kapasiteit het om die skou aan te bied nie.
Die Expo organiseerders moes voor November verlede jaar bevestiging kry dat die skouterrein gebruik kan word. Om ‘n geleentheid van so ‘n groot omvang suksesvol te reël, moet die reëlings met kunstenaars en uitstallers al in die voorafgaande jaar vasgemaak word.
Mnr. Chris Tissink, voorsitter van die Zoutpansberg Expo, sê in ‘n skrywe aan die munisipaliteit, gedateer 29 Januarie, dat hulle nog geen bevestiging ontvang het of hulle die skouterrein in Julie kan gebruik nie. Mnr. Tissink sê dat hulle pogings om kontak te bewerkstellig baie frustrerend was. Uiteindelik het hulle ‘n afspraak met een van die direkteure gekry.
"Ons is deur mnr. Masengane in kennis gestel dat hy in beheer van geleenthede in Makhado is en dat dit sy aanbeveling is dat die aanbieding van hierdie jaarlikse geleentheid op tenderbasis uitgesit word," skryf die Expo direkteure. In ‘n vorige skrywe het hulle ‘n antwoord gevra op die vraag of dit die amptelike siening van die munisipaliteit was, maar het geen terugvoering gekry nie.
Uiteindelik is Expo organiseerders in kennis gestel dat hulle die Raad se Uitvoerende Komitee (UK) vergadering om 10:00 op 27 Februarie moet bywoon. By hulle aankoms kon hulle nie een van die UK-lede vind nie. Die vergadering is intussen geskuif na 14:00, sonder enige kennisgewing aan die Expo organiseerders. Hulle het nie sulke onbedagsaamheid aanvaar nie en ‘n paneel is inderhaas bymekaargeskraap om hulle te woord te staan om 10:30. Daar is hulle opgeroep om ‘n formele aanbieding voor te lê, waarvan hulle glad nie bewus was nie.
Mnr. Tissink het gesê dat dit vir hulle ‘n ernstige probleem is dat hulle net van een vergadering na ‘n ander rondgestuur word. Hulle het ‘n gerug gehoor dat hulle die skou kan aanbied as hulle sekere voorwaardes nakom, maar het nooit enige iets op skrif ontvang nie.
Die Expo Direkteure het vervolgens hul besluit aan die munisipaliteit oorgedra dat hulle heeltemal onttrek van die Expo vir 2007, asook vir alle toekomstige geleenthede.
Mnr. Naudé het op 28 Februarie gesê dat die munisipaliteit moet verstaan dat die Expo aangebied word sonder enige vergoeding aan die organiseerders en dat die fondse wat ingesamel word, aan liefdadigheid gaan. Die skou het die dorp se beeld positief uitgedra.
Mnr. Tissink het gesê dat daar reeds reëlings met kunstenaars aangegaan is en dat die direkteure van die Zoutpansberg Expo gaan poog om ‘n alternatiewe geleentheid te organiseer.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
