

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 March 2007
"Ons kinders is nie meer dieselfde nie. Jy probeer hulle teen die geweld op televisie beskerm, maar skielik is dit hier, in jou gesig!"
Amper ‘n week na hulle vir sowat ‘n uur lank uitgelewer was aan die genade van gewetenlose gewapende rowers, sukkel die Booysen-gesin en ouma Joey Pavier nog om die skok te verwerk. Die trane lê vlak en die letsels van die gewelddadige aanval op hul lewens sny diep.
Dirk en Santie Booysen van Makhado (Louis Trichardt) en ouma Joey is verlede Vrydag Gauteng toe. Die Booysens se 10-jarige seun, Ruann, moes ‘n oorspesialis gaan sien. Kleinsus Zhanté (6) is ook saam.
Soos dinge nou maar uitgewerk het, kon die spesialis nie vir Ruann sien nie. Die familie is toe na ouma Joey se suster, Sandra, en haar man, Mike Franklin, se kleinhoewe by Welbekend (Pretoria-Oos).
Mike was omstreeks 19:00 reeds tuis. Daarna het Joey, Sandra en Ruann by die huis opgedaag. Pa Dirk, ma Santie en klein Zhanté het eers gaan pizzas kry omdat die familie so laat by die huis gekom het. Dit was met dié drie se terugkoms wat dinge skielik lelik skeefgeloop het vir die hele familie.
Met hul aankoms by die kleinhoewe het Dirk eerste uitgeklim. Santie het die pizzas vasgehou en Zhanté het agter in die kar lê en slaap.
"Ek het net ‘n onaardige gil gehoor. Dit was Dirk, maar dit het nie soos hy geklink nie," onthou Santie. Twee gewapende mans het Dirk van agter oorrompel en hom op die grond neergepen. Sy angsgil het Santie laat gil en in die chaos het klein Zhanté wakker geskrik. Voor haar het die rowers vuurwapens in haar ma en pa se gesigte rondgeswaai en die hele tyd aggressief geskreeu: "I’ll f****n shoot you! I’ll f****n shoot you!"
Met die geskreeu het Sandra en klein Ruann die deur oopgemaak om te sien wat in die oprit voor die huis aan die gang is. Dadelik is een van die gewapende rowers agter haar aan, die huis in.
"Sandra het ingehardloop en net geskreeu ‘Ons word aangeval! Ons word aangeval!’. Sy het vir Ruann agter ‘n muureenheid versteek en hom beveel om daar te bly. Soos blits het sy die sak gegryp waar daar twee vuurwapens in versteek was en agter ‘n bank ingeduik," vertel Joey, maar van terugskiet was daar geen sprake nie. Sandra kon nie daarin slaag om enige van die twee vuurwapens, ‘n pistool en rewolwer, gelaai te kry nie.
Skielik het die man die sitkamer ingestorm. Mike is op die grond neergegooi.
"Ek het op my knieë voor die man gestaan. Hulle het nie sinne gepraat nie, net kort bevele geblaf soos ‘Money! Money!’ en ‘Safe! Safe!’" sê Joey. Die pistool was die hele tyd teen haar kop.
Klein Ruann agter die kas het uitgeloer en sy ouma met die pistool teen haar kop gesien.
"Ek het die hele tyd vir die Here gebid," sê hy. Hy het probeer om sy ouma te hulp te snel, maar die smekings van beide Sandra en Joey het gekeer dat die rowers nie klein Ruann doodskiet nie.
In die huis is die familie van al hulle persoonlike besittings gestroop. Buite is Dirk en Santie ook van alle persoonlike besittings beroof.
Toe, skielik, stap die Franklin-egpaar se seun, Alexander, by ‘n deur op die tweede verdieping van die huis uit. Die rower in die huis het wild begin skreeu: "Come down! Come down! I’ll shoot you!"
Alexander het kopgehou en in sy ma se kamer ingehardloop en die deur gesluit.
"Ek dink dit is wat ons lewens gered het. Die mans het kort daarna op die vluggeslaan. Hulle het seker gedink Alexander het hulp ontbied of vuurwapens in die kamer gaan haal," sê Joey.
Maar die rowers het nie net sommer op die vluggeslaan nie ...
"Toe die een by die huis uithardloop, hoor ek net hierdie vreeslike skoot. Al wat ek kon dink is ‘Watter een van my kinders is doodgeskiet?’ Ek het vir nog skote gewag, maar daar was nie," sê Joey.
Wat wel buite gebeur het, was dat die mans op die vluggeslaan het. Die een man het egter met die weghardloopslag vir Dirk, wat steeds op die grond gelê het, in die kop probeer skiet.
"Hy was ‘n paar treë weg van my. Ek het gesien hy mik, maar weet nie hoe die koeël my gemis het nie. Dit moes die Here gewees het wat my weggedraai het," vertel Dirk. Die koeël het hom met enkele sentimeters gemis.
"Toe die skoot klap, het ek gesien Dirk draai weg. Al wat ek kon dink is ‘My man is doodgeskiet!’. Zhanté het alles aanskou," onthou Santie. Sy sê sy was oorstelp van vreugde toe Dirk vir haar sê hy is nie raakgeskiet nie.
"Jy sien die heel tyd daardie oë, soos ‘n slang, so wreedaardig; hulle blaas van angs en in die huis hoor ek hoe skreeu die mense. Jy weet nie of jou keel dalk afgesny gaan word nie ..." sê Santie.
Die Booysen-familie en ouma Joey het Dinsdag nog gesukkel om sin te maak van die skokervaring. Hulle is bly hulle leef en dankbaar vir genade. Vir die kinders was dit baie erg en Woensdag sou hulle gespesialiseerde berading ontvang.
* Een verdagte is kort na die voorval aangekeer.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
