

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 March 2007
Die Soutpansberg Belastingbetalers Vereniging (SBBV) word op 19 Maart gestig met die doel om billike belasting te verseker met ‘n duidelike ooreenstemming tussen die belasting wat betaal word en dienste wat deur die munisipaliteit gelewer word.
Die vergadering neem ‘n aanvang om 18:00 in die Ferdie Beyerssaal.
Die SBBV is ‘n nie-party-politieke, nie-rassige, nie-diskriminerende vereniging wat na die belange van die gemeenskap wil omsien en saam met ander gemeenskapsorganisasies in die Soutpansberggebied wil werk om die regte van die gemeenskap te beskerm en uit te bou.
‘n Stigterslid van die vereniging, mnr. Herman Smith, het beklemtoon dat belastingbetalers die grondwetlike reg het om veilig, in skoon, netjiese en goed-georganiseerde woonbuurtes, plotte en plase te bly waar munisipale dienste gelewer word.
Van raadslede sal verwag word dat hulle "openlik, onpartydig, sonder voorbehoude, diskriminasie, selfverryking, politieke agendas of haatspraak sal optree in die belang van die belastingbetalers van die Makhado Munisipale gebied."
Die Wet op Plaaslike Besture bepaal dat die Raad verantwoordelik is om met verenigings van die gemeenskap oorleg te pleeg en hulle te konsulteer in die uitvoer van hulle funksies en gesag. Die SBBV sê egter dat munisipale konsultasies met die gemeenskap huidiglik hopeloos te kort skiet.
"Die regte van die gemeenskap, wat insluit die reg om by te dra tot die besluitnemingsproses van die munisipaliteit, sal ernstig opgevolg word," lui die persverklaring.
Die SBBV sal daarop aandring dat raadsbesluite wat die belastingbetaler se regte, eiendomme en verwagtings raak, bekendgemaak word. Gereelde en openlike verslagdoening is uiters noodsaaklik.
Mnr. Smith sê die vertrekpunt sal wees om ‘n vorm van ‘n samewerkingsooreenkoms met die munisipaliteit te bewerkstellig op raadsvlak, asook ander vlakke wat die verskillende dienste aan die gemeenskap moet lewer.
"Indien samewerking van die munisipaliteit nie verkry word binne die raamwerk van die toepaslike wette nie, sal ander, meer drastiese opsies oorweeg word," aldus die persverklaring.
Lidmaatskapvorms sal by die vergadering beskikbaar wees en daar sal ‘n jaarlikse lidmaatskapfooi betlaalbaar wees om administratiewe kostes te dek. Indien ‘n afskrif van die grondwet of ‘n lidmaatskapvorm voor die vergadering verlang word, kan Carel Breytenbach geskakel word by 015 516 2992 ([email protected]) of Herman Smith by 084 910 7654 ([email protected]).
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
