

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 October 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Fietsryers op ‘n fietsrytoer ten bate van kinders in nood het op Saterdag, 25 September, die dorp besoek. Die plaaslike Tafelronde nooi die gemeenskap uit om steeds bydraes te maak.
Kinders van die Jakaranda (Abraham Kriel) en Louis Botha Kinderhuise in Pretoria het ‘n span gevorm saam met die Bosveld area se Tafelronde vir ‘n opwindende fietstoer van agt dae.
Ses kinders, met ouderdomme wat wissel tussen 15 en 17 jaar, het aan die toer deelgeneem.
“Hierdie jaar het hulle nie aflos gery soos verlede jaar nie, maar almal trap die volle afstand van 1 250 km,” het mnr. Thinus Erwee, hoof van die twee kinderhuise, Saterdag by die Toerisme Inligtingsentrum gesê. Mnr. Erwee en drie ander volwassenes trap self saam met die kinders.
Die toer het die fietsryers deur Limpopo en dele van Mpumalanga en Gauteng geneem. Saterdag, omstreeks 15:00, het hulle Louis Trichardt bereik vanaf Polokwane via Vivo; Sondag is hulle na Tzaneen, Maandag na Phalaborwa; Dinsdag was ‘n rusdag in die Nasionale Kruger Wildtuin; Woensdag het hulle vanaf Sabie na Groblersdal oor die Long Tom pas getrap en Donderdag, 30 September arriveer hulle weer in Pretoria.
Mnr. Danie van Rensburg, sameroeper van die Bosveld Liefdadigheidsfietstoer, sê dat ‘n nuwe sentrum vir gedragsmoeilike kinders in Pretoria in East Lynne opgerig is en dat die fietsryers fondse insamel vir die meublement en binnenshuise benodigdhede van die sentrum. Vir sover mnr. Van Rensburg se kennis strek, is dit die land se eerste sentrum vir gedragsmoeilike kinders vanuit kinderhuise. Die sentrum spreek die terapeutiese aspek van rehabilitasie aan.
‘n Sewentienjarige fietsryer het in sy kommentaar op die fietstoer gesê dat die toer baie opwindend is.
“Dit is nuwe uitdagings wat ons nooit weer in ons lewe sal kry nie. Dit is wonderlik, al is dit so hard. Jy sien dinge wat jy nog nooit gesien het nie.”
Mnr. Gideon Mellows, voorsitter van die plaaslike Tafelronde het namens Tafelronde Zoutpansberg 66 ‘n tjek van R5 000 ten bate van die Jakaranda projek oorhandig. Mnr. Mellows moedig ander instansies aan om ook by te dra. Voornemende donateurs kan mnr. Gideon Mellows skakel by tel. 084 602 5790 of direk vir mnr. Van Rensburg by tel. (012) 333 6184 of 083 652 0720.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
