ADVERTISEMENT:

 

Klein Henri Coetzee langs die groot poel rou riool wat in hulle erf opgedam het.

Rou riool in tuin maak ma bekommerd

 

News  Date: 09 March 2007

 

‘n Inwoner van Makhado (Louis Trichardt) se voortuin het verlede week lekker water gekry toe rou riool haar erf oorspoel het.

Mev. Esmé Coetzee van Douthwaitstraat sê sy het vroeg Vrydagoggend snuf in die neus gekry dat iets verkeerd is. Buite het sy gesien hoe rou riool by ‘n mangat uitborrel en haar erf oorstroom.

Die hulp van die munisipaliteit is ingeroep, maar ure later was daar nog geen teken van hulle nie en die riool het orals begin opdam.

Mev. Coetzee het gesê die krisis het vir hulle ‘n groot gesondheidsrisiko veroorsaak, veral vir haar seun Henri. Sy het omtrent haar hande vol gehad om die jong mannetjie uit die modder te hou. Mev. Coetzee sê dit is skokkend om te sien hoe nalatig die munisipaliteit kan wees ten opsigte van inwoners se gesondheid.

Buurman mnr. Johan Nel het later uit radeloosheid een van sy werknemers aangesê om die mangat naby mev. Coetzee se huis oop te maak net om die druk van die drein in haar erf te verlig. Dit het egter nie gewerk nie.

Mnr. Nel sê dat hy verlede jaar ‘n soortgelyke rioolprobleem gehad het. Volgens hom het dit, net soos by mev. Coetzee, by hom uitgeborrel en sy hele erf is onder die riool gelaat.

Rioolprobleme is egter nie net beperk tot mev. Coetzee se geval nie en gerigte het dit dat ‘n munisipale amptenaar ook deurgeloop het. Van der Merwe Saagmeule in Malherbestraat loop ook reeds ‘n geruime tyd deur.

Voorman mnr. Tony Buys sê die 40 werknemers by die saagmeule weet nie hoe dit voel om sanitasie en skoon, leefbare geriewe te hê nie.

Verskeie pogings is deur die Zoutpansberger aangewend om amptelike kommentaar vanaf die munisipaliteit te kry oor die probleem. Niemand was beskikbaar nie. ‘n Betroubare bron binne die munisipaliteit het egter gesê die probleem is weereens toe te skryf aan ‘n verstopte hooflyn. Hy het inwoners versoek om net te aanhou kla oor die probleem.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines