

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 March 2007
‘n Voorval waartydens die bestuurder van ‘n nuwe Audi A3-luikrug sy voertuig teen ‘n boom afgeskryf het, nadat die hulp van lede van die Soutpansberg Dorpswag ontbied is om die voertuig te help opspoor, ontaard in ‘n "hy sê, sy sê" situasie.
‘n Lid van die dorpswag het Sondagaand die beheerkamer geradio en gesê dat die bestuurder van die Audi hom op die N1 van die pad af probeer dwing het en uiters roekeloos en nalatig bestuur het. By Makhado (Louis Trichardt) het die voertuig, sonder nommerplate, middedorp toe gedraai en verdwyn.
‘n Paar minute later het lede van die dorpswag die voertuig opgespoor waar dit in die omgewing van Breda- en Munnikstraat geparkeer gestaan het. Intussen is die hulp van die plaaslike verkeersafdeling ook ingeroep.
Toe die dorpswaglede die voertuig nader, het die bestuurder van die voertuig na bewering teen hoë spoed weggejaag. ‘n Paar straatblokke verder, op die hoek van Ruh- en Presidentstraat, het die bestuurder van die Audi beheer verloor oor sy voertuig, die bosse ingejaag en teen ‘n boom gebots.
Volgens plaaslike polisiewoordvoerder insp. Ndwamato Vele, beweer die bestuurder van die Audi egter dat dit die dorpswaglid, wat die voorval gerapporteer het, was wat roekeloos nalatig bestuur het. Die bestuurder van die Audi sê dat hy deur lede van die dorpswag gejaag is.
Insp. Vele sê dat beide die bestuurder van die Audi en sy passasier na die ongeluk opgeneem is vir mediese behandeling. Die bestuurder is kort daarna ontslaan, terwyl die passasier in die hospitaal agtergebly het.
Insp. Vele sê die rede waarom die Audi nie nommerplate opgehad het nie, was omdat dit ‘n nuwe voertuig was. Daar was wel ‘n tydelike nommerplaat op die Audi se agtervenster aangebring. Alhoewel daar aanvanklik vermoed is die voertuig was gesteel, sê insp. Vele dat die voertuig nagegaan is en dat die voertuig nie gesteel is nie.
Insp. Vele is gevra of die Audi se insittendes vir alkohol getoets is. Hierop het hy geantwoord dat geen melding van dronkbestuur en of daar bloed getrek is in die polisiedossier verskyn nie. Dit is toe onder insp. Vele se aandag gebring dat daar wel foto’s geneem is van die Audi se kajuit binne wat duidelik ‘n paar leë bierbottels aandui. Insp. Vele het toe gesê dat hy dit onder die ondersoekbeampte se aandag sal bring. Hy sê ‘n saak van roekelose of nalatige bestuur word ondersoek.

ADVERTISEMENT:
