

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 March 2007
‘n Opwindende positiewe deurbraak op die gebied van kuns, kultuur en vermaak is in Makhado (Louis Trichardt) aangekondig. ‘n Volwaardige kuns- en kultuursfees gaan vanjaar nog op die dorp gehou word.
Dié eerste Soutpansberg Kuns- en Kultuurfees word op 26, 27 en 28 Julie vanjaar aangebied. Hierdie beduidende baanbrekersfees vir die Soutpansberg-area word aangebied deur die onderneming Soutpansberg Expo, organiseerders van verlede jaar se Soutpansberg Expo op die munisipale skouterrein. Die direksie van die Expo het egter aangekondig dat hulle nie vanjaar sal voortgaan met die reël van die expo/skou einde Julie nie, weens talle nuwe voorwaardes wat die munisipaliteit nou aan hulle stel vir die gebruik van die skouterrein. Hulle beskou die voorwaardes as onbillik.
Na aanleiding van die nuwe voorwaardes het die direksie besluit om, instede van die "skou", eerder twee kultuurfeeste vir die dorp te reël. Voorlopige programbesonderhede is vandeesweek bekendgemaak van feestelikhede wat oor drie dae in Julie en oor twee dae in September vanjaar aangebied sal word. Die program maak voorsiening vir alle ouderdomsgroepe en die fees word beoog as ‘n jaarlikse sosiale en vermaaklikheidshoogtepunt vir die gemeenskap.
Die kuns- en kultuurfees sal by altwee geleenthede op die sportgronde van die Hoërskool Louis Trichardt aangebied word en sluit uitstallings in, tesame met uitvoerings en opvoerings deur van die voorste kunstenaars in die land.
Onder die belangrikste uitstallings is die jaarlikse vertoning van blommerangskikkings deur die plaaslike blommeklub, wat reeds wyd bekend is vir sy uitstaande gehalte en kleurvolle skouspel. Van die uitvoerende kunstenaars wat reeds hul deelname bevestig het, sluit in Eden, Juanita en die span van Maak-‘n-Las.
Benewens konsertuitvoerings en ander opvoerings deur top-kunstenaars, sal deurlopende vermaak ook op die feesterrein beskikbaar wees, tesame met ‘n verskeidenheid kos- en ander stalletjies. Die bykomende vermaak sluit ‘n pretpark in.
Een van die fees hoogtepunte is die skoonheidskompetisie waarin ‘n Mnr. en Mej. Soutpansberg Expo aangewys sal word. Die seremoniemeester by dié glansgeleentheid is die gewilde "George" van 7de Laan. In dié kompetisie word daar ook vir ‘n verskeidenheid ouderdomsgroepe, insluitende kleuters en tieners voorsiening gemaak.
Die organiseerders het aangekondig dat winste wat deur die fees opgelewer word, onder verdienstelike welsynsprojekte verdeel sal word.
Soutpansberg Expo sal ook, met die oog op die professionele aanbieding van die fees, verskeie permanente verbeterings en toevoegings op die skool se sportgronde aanbring.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
