ADVERTISEMENT:

 

‘n Opgeruimde mnr. Riaan Engelbrecht waar hy tans tuis aansterk na ‘n byna noodlottige motorfietsongeluk aan die einde Februarie.

Riaan dankbaar vir tweede kans

 

News  Date: 23 March 2007

 

"Ek dank die Here ek leef - ek het ‘n tweede kans gekry."

So onthou plaaslike inwoner en goudsmid mnr. Riaan Engelbrecht sy nagmerrie ondervinding toe hy ‘n paar weke gelede met sy motorfiets teen ‘n bakkie gebots het wat voor hom ingedraai het in Kroghstraat in Makhado (Louis Trichardt).

Riaan is reeds verlede Donderdag uit die MediClinic in Polokwane ontslaan waar hy operasies aan sy been en enkel ondergaan het.

Die Zoutpansberger het Dinsdag vir Riaan tuis gaan kuier. Hy was opgeruimd en het gesê dit gaan baie goed met hom.

Riaan het sommer weggeval met ‘n string bedankings – eerstens vir sy Hemelse Vader, maar ook vir sy familie en vriende. Hy het veral sy broer, Attie, uitgesonder wat hom getrou bygestaan het in sy tyd van nood. Hy het ook die mediese personeel van die Zoutpansberg Privaat Hospitaal en die van die MediClinic bedank. Hy sê hierdie mense gee regtig om vir hul pasiënte.

Riaan vertel dat daar so ‘n paar penne, ‘n plaat en ‘n paar skroewe binne sy been aangebring is om te help met die herstelproses. Hy sê sy noue ontkoming hom laat besef dat mens op geleende tyd op aarde is en dat mense die beste daarvan moet maak - terwyl hulle nog lewe. Riaan sê mense moet meer vir mekaar omgee en as padgebruikers moet mense ook meer respek vir mekaar se veiligheid hê.

Riaan se motorfiets is afgeskryf in die ongeluk. Hy is egter nie baie hartseer daaroor nie, aangesien dit "net ‘n gevaarlike ding was."

Riaan keer Donderdag vandeesweek weer terug na die MediClinic in Polokwane, aangesien ‘n veloorplanting op die beseerde been gedoen moet word. Ten spyte van groot mediese onkoste is Riaan egter dankbaar dat hy die gebruik van sy been en kuit teruggekry het.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines