ADVERTISEMENT:

 

Beeste op aanloopbaan vertraag landing

 

News  Date: 23 March 2007

 

‘n Prominente inwoner van Makhado (Louis Trichardt) het haar geskaam vir die haglike toestand van die munisipale lughawe hier toe sy vlieëniers en televisie-aanbieders by die lughawe moes ontmoet.

"Hulle moes met hul 20-sitplek vliegtuig twee keer oor die aanloopbaan vlieg omdat hul nie dadelik kon land nie, want daar was beeste op die aanloopbaan," sê mev. Inga Gilfillan, wat die besoekers op 10 Maart daar moes ontvang.

Me. Gilfillan sê dat daar ‘n drom by die uitgang van die vliegveld na die motorparkeerterrein was met smeulende vuilgoed waardeur die 15 vliegtuig passasiers (televisie sportaanbieders) en die twee loodse van ‘n privaat vliegmaatskappy moes loop ten einde by die motorparkeerterrein te kom. Die lughawegebou self is vol boumateriaal en gemors.

 "Die twee veiligheidswagte by die lughawe het ook dadelik na die vliegtuig gestorm om  die oorblywende kospakkies op die vliegtuig te bekom. Ook om die landingsfooi in te vorder by die loods!" sê ‘n verontwaardigde me. Gilfillan.

Die besoekers moes ook met hul gehuurde motors deur erge slaggate ry om na en van die lughawe te kom.

"Ek sou graag eerder hierdie besoekers aan ons dorp onder minder lewensgevaarlike, skoner, netjieser en aangenamer omstandighede wou verwelkom het," sê me. Gilfillan. 

By navraag het die munisipale bestuurder van die Makhado Munisipaliteit, me. Faith Muthambi, gesê dat die plaaslike lughawe onder die streeksbestuurder val. Die Streeksbestuurder: Makhado, mnr. Lampie Schoeman, het gesê dat hy nie van die probleme bewus is nie, maar dat hy ‘n ondersoek sal loods en sal terugvoering gee.

Ongeveer twee jaar gelede is daar ook gerapporteer van die totaal vervalle toestand van die lughawe en die bokke wat op die aanloopbaan voorkom. Die lughawe se aanloopbaan en gebou is die eerste indrukke van die dorp wat toeriste en ander besoekers van die dorp vorm en inwoners voel dat dit belangrik is dat dit in stand gehou word.

Die een vlieënier, Kaptein Els van National Airways, het hierdie week gesê dat die beeste nie ‘n wesenlike gevaar gevorm het nie, aangesien hy gewoond is om in wildreservate te land waar diere beweeg.

"Ons ken die prosedures en sal nie land voor die aanloopbaan skoon is nie. Ons het eers laag gevlieg om die beeste te verwilder en daarna geland," het Els gesê.

Dit het nie veel getroos nie, want me. Gilfillan, wat ook sakevrou en sekretaresse van die Voorsittervereniging is, dring aan op netjiese, aantreklike toestande om toerisme te bevorder en die streek se welvaart uit te bou.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines