

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 March 2007
Foutiewe munisipale water- en elektrisiteitsrekeninge is besig om inwoners van Makhado (Louis Trichardt) al hoe meer raadop en moedeloos te maak.
Verbeel jou jy verhuur huise, huurders kom en gaan sonder probleme en skielik op ‘n dag kom daar ‘n rekening van R8 000 aan wat agterstallig is op een van die huurders se rekeninge. Nou weier die munisipaliteit om weer die water- en elektrisiteitsaansluiting te doen alvorens die agterstallige rekening betaal is. Dit is nou ‘n rekening van huurders wat reeds in 2001 uitgetrek het en tussen 2001 tot nou was daar verskeie huurders en geen probleme is ondervind nie.
Me. Maryna Swanepoel is die eienaar van ‘n paar huur huise in die dorp en sy is al moedeloos gesukkel met ‘n munisipaliteit wat haar nie behulpsaam is nie.
Volgens me. Swanepoel is agterstallige heffings wat jare later by haar aangevra word nie die enigste probleem nie. Rekeninge word ook verkeerdelik uitgereik of omgeruil. Sy het só ‘n verkeerde rekening van een van haar huur huise gekry, waar ‘n vorige huurder se rekening van sy nuwe huis aan haar gestuur word. ‘n Ander keer was dit haar huurhuise se rekeninge wat omgeruil is.
Me. Swanepoel sê sy is moedeloos en raadop met die munisipaliteit. Sy het bewyse van water- en elektrisiteitsrekeninge wat vir haar gestuur word, maar dan word erfbelasting van ander erwe van haar aangevra.
Volgens me. Swanepoel lees sy ook elke maand haar eie kraggebruik en teken dit aan om met die lesing van die munisipaliteit te kan vergelyk. Die munisipale rekening is altyd hoër as haar eie en sy het hieroor navraag. Me. Swanepoel sê sy is deur die munisipaliteit meegedeel dat dit ontoelaatbaar vir haar om haar eie krag te lees en dat sy daarmee moet ophou.
Me. Swanepoel sê een van haar huurders is onlangs skrik op die lyf gejaag deur ‘n hoë rekening. Die huurder het vertel dat die munisipaliteit vir drie maande versuim het om lesings te neem en dat hulle hom nou met al die heffings wil belas. Me. Swanepoel wil nou weet of inwoners vir swak munisipale administrasie of luiheid belas moet word? Sy sê sy sukkel reeds met haar bloeddruk en dat die munisipaliteit besig is om haar gesondheid te benadeel. Me. Swanepoel sê sy het al verskeie afsprake met beamptes van die finansiële-afdeling gemaak, maar sonder enige sukses.
‘n Ander inwoner van die dorp, mnr Willie de Swardt, het ook sy frustrasie aan die Zoutpansberger verduidelik. Volgens mnr. De Swardt is hy al so moedeloos oor verkeerde munisipale rekeninge dat hy ‘n hofbevel wil kry net om hulle so ver te kry om na sy probleme te luister.
In reaksie op die klagte het die munisipaliteit se waarnemende direkteur van finansies, mnr. Thomas Nephawe, gesê dit is die munisipaliteit se plig om na inwoners se klagte te luister en op te los. Hy het egter inwoners versoek om nie sommer met enige iemand te praat oor klagte nie, maar eerder met hom direk. Mnr. Nephawe kan geskakel word by tel. 083 636 3542.

ADVERTISEMENT:
