

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 March 2007
Menige inwoner het vandeesweek die hoop uitgespreek dat die massiewe kragonderbreking Maandagoggend nie ‘n voorbode is van wat elektrisiteitsverbruikers van die Soutpansberg in die toekoms kan verwag nie. Asof die kragonderbreking nie erg genoeg was nie, bestaan daar ook nou ‘n wesenlike gevaar van ‘n watertekort.
Uit gesprekke met munisipale amptenare blyk verouderde infrastruktuur die oorsaak te gewees het van die vier-uur-lange onderbreking wat bykans die totale streek letterlik krag(te)loos het. Vir diegene daarsonder, het kragopwekkers hoog op in hul Kersfees wenslys geskuif.
Wat het verkeerd gegaan?
Die onderbreking is veroorsaak toe vier brugstukke by een van die dorp se twee hoof invoerders afgebrand het. Kragtoevoer na Makhado (Louis Trichardt), die berg, Levubu, Bandelierkop en dele in die Mara-omgewing is onderbreek.
Die probleem is dadelik geïdentifiseer, maar inwoners moes vir etlike ure (08:00 tot 12:00) wag vir die kragtoevoer om weer herstel te word vanweë die tydrowende en ingewikkelde herstelproses. As gevolg van die geweldige lading op die netwerk, is kragtoevoer in fases aangeskakel. Kragtoevoer na die sentrale sakegebied van Makhado (Louis Trichardt) is eerste herstel.
Levubu Dinsdag weer sonder krag
Elektrisiteitverbruikers in die Levubu-omgewing was Dinsdag ook sonder krag. Die gebiede wat geaffekteer is, het Levubu, Vuwani, Timbadola, Mashau en Valdezia ingesluit. Die onderbreking was te danke aan noodsaaklike herstelwerk aan die kraglyn waar dit oor die Elim-pad kruis. ‘n Kragpaal, wat besig was om om te val, moes vervang word.
Wat kan inwoners in die toekoms verwag?
Die munisipaliteit het Woensdag aangekondig dat verdere noodsaaklike herstelwerk aan die dorp se hoofsubstasie nodig is om kragonderbrekings soos dié van Maandag uit te skakel. Dit sal egter beteken dat die substasie in die nabye toekoms vir ‘n volle dag afgeskakel sal moet word. Wanneer dit gaan plaasvind, is nie seker nie.
Intussen het ‘n woordvoerder van die munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling, mnr. Willie Scheepers, Dinsdag gesê dat die dorp reeds ‘n elektrisiteitstekort ondervind vanweë volgehoue uitbreiding. Hy sê die dorp ontvang 40 000kVA (kilovolt ampere) vanaf Eskom en trek reeds 38 000kVA daarvan.
In ‘n poging op elektrisiteitsverbruik in die dorp te verminder, is die munisipaliteit tans besig om die Levubu-lyn se elektrisiteitsvoorsieningsnetwerk te verskuif en op te gradeer. Die netwerk sal uiteindelik vanaf Levubu by Eskom op Elim aansluit. Die opgradering behels dat hout kragpale met sementpale vervang word.
Hoe is watervoorsiening belemmer?
Ten tye van die onderbreking kon geen water in die dorp se onderskeie reservoirs gepomp word nie. Die situasie is verder vererger toe koperdraaddiewe te midde van die onderbreking kragkabels, wat van die munisipale waterpompe van krag voorsien, gesteel het. Die diefstalle is eers opgemerk nadat kragtoevoer weer herstel is. Munisipale amptenare het tot middernag Maandag gewerk om die pompe weer aan die gang te kry. In wese beteken dit dat geen water na die reservoirs gepomp kon word nie vir ‘n periode van amper 16 uur. Intussen het waterverbruik voortgegaan en die reservoirs het leeggeloop. Dit sal nou ongeveer sewe volle dae neem om die reservoirs weer vol te maak. Die hoë temperature en baie inwoners se voortgesette verontagsaming van die streng waterbeperkings wat deur die munisipaliteit ingestel is, hou ‘n wesenlike gevaar in dat die dorp binnekort dalk sonder water kan sit. Die munisipaliteit het weereens inwoners versoek om die waterbeperkings toe te pas en enige waterlekke dadelik aan hulle te rapporteer.
Munisipaliteit vra verskoning
Die bestuur van beide die munisipaliteit se elektrisiteits- en watervoorsieningsafdeling het verskoning gevra vir Maandag se ongerief en enige ander ongerief wat deur verbruikers ervaar kan word tydens beplande herstel- en opgraderingswerk.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
