

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 March 2007
‘n Egpaar wat saam met hul kind op Vrydag, 23 Maart, by Fruit & Veg op Makhado (Louis Trichardt) gaan "inkopies" doen het, is op heterdaad betrap toe hulle doodeenvoudig hul trollie vol groente en vleis gelaai het en by die deur uitgestap het sonder om daarvoor te betaal.
Hul plan het egter nie ongesiens verbygegaan nie. Die onderbestuurder van die winkelgroep hier, mnr. Pieter Naudé, het die egpaar se bewegings dopgehou. Toe hy sien dat die egpaar by die deur uitstap, het hy dadelik ‘n sekuritietswag opdrag gegee om hulle te vra vir hul betalingsbewys.
Die egpaar het al vinniger die goedere in die trollie in hul voertuig begin pak toe hulle sien die sekuriteitswag stap nader. Intussen is ‘n ander voertuig gebruik om die egpaar se voertuig vas te parkeer. Hulle is toe meegedeel dat die polisie intussen ontbied is.
Die man, wat besef het hulle is in die moeilikheid, het egter besluit om die hasepad te kies en het sy vrou en huilende kind net daar gelos. Die vrou is later gearresteer.
Pieter het na die tyd vertel hoe die egpaar en hul kind die winkel binnegekom het en begin het om die trollie vol te pak. Hulle het verby die kassiere gestap na die Meat & Ocean-afdeling van die winkel waar hulle ‘n paar pakkies filette ingelaai het. Daarna is hulle dood rustig die winkel uit na hul voertuig, sonder om te betaal. Die vrou het wel, blykbaar om hulle minder verdag te laat voorkom, twee klein pakkies vleis gevat en betaal.
Nadat die egpaar uitgevang is, was daar baie stories. Die vrou het onder meer beweer sy het nie gesien die kind stap by die deur uit nie, terwyl die pa gesê het hy het gedink sy vrou het vir die items betaal. Die winkel se sekuriteitskameras het egter beide "verduidelikings" van die man en vrou as onwaar uitgewys. Dit het duidelik gewys hoe die vrou voor haar kind loop, terwyl hy die trollie stoot. Die man het kort op hul hakke gevolg en hy en die kind is uit, terwyl die vrou vir die twee pakkies vleis betaal het.
Pieter sê dit is nie die eerste keer dat dié tipe diefstal plaasvind nie. By ‘n vorige geleentheid het die booswigte weggekom, want die sekuriteitskameras was buite werking.
Die vrou wat na Vrydag se voorval in hegtenis geneem is, Selaelo Esther Mbedzi (39), het Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn op klagte van diefstal. Die goedere se waarde het sowat R700 beloop.
Mbedzi het ‘n skulderkenningsboete van R1 000 betaal en sy is vrygelaat. Haar man was teen druktyd nog soek, alhoewel die polisie gesê het hulle was warm op sy spoor.

ADVERTISEMENT:
