ADVERTISEMENT:

 

Quo vadis Makhado?

 

News  Date: 06 April 2007

 

Makhado is weer Louis Trichardt, maar vir hoe lank, is die vraag in baie se gemoed?

Afhangend van watter kant van die politieke spektrum inwoners hulle by skaar, het die Appèlhof in Bloemfontein se uitspraak oor die naam van Louis Trichardt vir baie as ‘n oorwinning gekom, terwyl andere nie so gelukkig is daaroor nie.

Hoe dit ookal sy, die Appèlhofuitspraak verlede Donderdag, 29 Maart, het ‘n einde gebring aan ‘n lang (en baie duur) hofsaak oor die omstrede naamsverandering van Louis Trichardt na Makhado. Baie meen egter dat dit maar net die eerste rondte is in ‘n baie lelike politieke geveg wat in intensiteit gaan toeneem.

Louis Trichardt is weer Louis Trichardt, maar wat gaan nou volgende gebeur? Eerstens moet daar bietjie onsekerheid uit die lug gesuiwer word, veral rondom die betekenis van die Appèlhof se uitspraak. Baie is onder die indruk dat die Appèlhof se uitspraak ‘n einde gebring het aan enige verdere pogings van die regering om die naam van Louis Trichardt te verander.

Nie waar nie.

Dié vyf-jaar-lange hofsaak wat die plaaslike Voorsittersvereniging (VV) teen die Minister van Kuns en Kultuur as eerste respondent, die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Geografiese Name Raad as tweede respondent en die Makhado Munisipaliteit as derde respondent, gevoer het, het nie gegaan oor die behoud van die naam Louis Trichardt nie. Nee, die hofsaak is aanhangig gemaak op grond daarvan dat die regering nie die regte prosedures gevolg het, veral ten opsigte van voldoende konsultasie met al die betrokke gemeenskappe, met die verandering van die naam nie. Dit beteken egter nie dat die VV nie bereid is om te veg vir die behoud van die naam Louis Trichardt nie. Sou die regering die proses van ‘n naamsverandering weer van voor af begin, het mnr. André Naudé, voorsitter van die VV, reeds aangedui dat hulle die proses verder sal beveg vir die behoud van die naam Louis Trichardt (Sien meegaande beriggewing binne).

Die saak is op 19 Februarie vanjaar aangehoor deur ‘n vollle bank van vyf Appèlregters (Farlam, Howie, Brand, Jafta en Cachalia). Uitspraak is verlede week deur Appèlregter Farlam gelewer. Die naamsverandering van Louis Trichardt na Makhado is tersyde gestel en die eerste en tweede respondente is gelas om die koste van die saak te betaal.

Die Appèlhof het die VV gelyk gegee dat die regering nie die regte prosedures gevolg het met die naamsverandering van Louis Trichardt nie en dat voldoende konsultasie inderdaad nie plaasgevind het nie. Die regspan van die drie respondente het onder meer aangevoer dat die Makhado Munisipaliteit ‘n verteenwoordiger van sy gemeenskap is en te enige tyd kan besluit oor ‘n naamsverandering (ingevolge ‘n bepaling in die Suid-Afrikaanse Geografiese Name Raad, Wet 118 van 1998 ten opsigte van transformasie), sonder om ag te slaan op die vraag of voldoende konsultasie plaasgevind het of nie.

Die Appèlhof het uitgewys dat ‘n riglyn in die naamsveranderingwetgewing bepaal dat voldoende konsultasie moét plaasvind, selfs in gevalle waar name in die gees van transformasie, verander word. Regter Farlam het gesê dat die hof van die opinie is dat hierdie riglyn geïmplementeer moes word in Louis Trichardt se geval. Hy het gesê dit is duidelik dat voldoende konsultasie nie plaasgevind het nie, inaggenome die kort kennis wat aan wyksraadslede gegee is om met hul gemeenskappe te konsulteer; die hou van ‘n openbare vergadering oor die naamsverandering ‘n dag vroeër as wat die munisipaliteit dit geadverteer het; die weiering van die destydse burgemeester ,rdl. Brighton Tlakula, om die proses terug te hou sodat verdere bespreking kon plaasvind; Tlakula se uitlating dat hulle "met politici konsulteer, nie met sakekamers nie" en Tlakula se opmerking dat die wyksraadslid van Wyk 1 nie haar werk gedoen het nie. Regter Farlam het ten opsigte van laasgenoemde gesê dat Tlakula daardeur erken het dat voldoende konsultasie nie plaasgevind het nie en dit nogal met inwoners van 50% van die munisipaliteit se verantwoordelikheidsgebied, insluitend Louis Trichardt wes van die N1, besighede, die Buys-gemeenskape asook ‘n aantal plattelandse woongebiede.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines