ADVERTISEMENT:

 

Wat sê Jan Publiek oor Appèlhof se uitspraak?

 

News  Date: 06 April 2007

 

Wat sê die mense van die uitspraak van die appèlhof wat die verandering van die dorp se naam vanaf Louis Trichardt na Makhado tersyde gestel het?

By verskillende plekke van samekoms en instansies is mense na willekeur gevra wat hulle gevoel is noudat Louis Trichardt weer Louis Trichardt is.

"Laat hulle hom weer Makhado try maak!" was die sterk gevoel van Bennie Holtzkampf (24).

"Dis ‘n oorwinning vir demokrasie! Dit is baie groter as om net aan ‘n naam te kan vashou," sê sakeman Robert Rauch.

"Vanaf die tyd van apartheid was die dorp se naam Louis Trichardt na aanleiding van die naam van die leier. Ek hou van die naam Louis Trichardt, eerder as Makhado, want dit is histories korrek. Toe ons demokrasie gekry het, was dit nie om alle name te kanselleer nie, want demokrasie beteken om gelyk te wees. As ons name verander, beteken dit dat dit nie meer ‘n demokrasie is nie," was ‘n 57-jarige inwoner van Zamekomste se opinie.

"Dis uitstekend dat dit Louis Trichardt is. Maar wat die naam ook al is, is dit belangrik om te onthou dat die proses nie reg gedoen was nie," sê mnr. Dennis Ball.

Dr Lappies Labuschagne sê dat geskiedenis geseëvier het. "Jy kan nie geskiedenis verander nie."

Nog by die geskiedenis, sê emeritus professor Louis Changuion dat hy navorsing gedoen het en dat die verandering na Makhado nooit ‘n regstelling was nie.

"Louis Trichardt was ‘n anti-imperialis. Dit was ‘n fout om die naam na Makhado te verander." Prof Changuion sê dat hy nie teen naamsverandering per se is nie, solank dit ‘n regstelling is.

Zenta Wessels (47) sê dat dit nou ‘n geleentheid is dat mense met mekaar kan kommunikeer oor veranderinge.

"Mense besef nou dat hulle met mekaar moet praat. Ek wou oor die maan spring toe ek die nuus hoor."

"Ek is bly dat mense van regeringskant nou sal besef dat hulle nie net kan stoomroller en dink almal moet dit aanvaar nie, veral nie oor so ‘n emosionele saak soos die naam van ons dorp nie," sê Saretha Sandham (38).

Ydean Hartzenberg (20) sê dat daar ‘n partytjie moet wees omdat Louis Trichardt weer Louis Trichardt is. "Daar is al klaar twee Makhado’s," sê hy.

Nog iemand wat nie van verwarring rondom name hou nie, is Rendani Makatu (17). Rendani voel dat daar nou verwarring is. "Hulle moes dit in die eerste plek Louis Trichardt gehou het, maar nou moet hulle dit Makhado hou, want dit skep verwarring om weer te verander. Wat nou van die Makhado Crossing sentrum?"

"Wat van al die Makhado borde? En die telefoonboek? Hulle sal ‘n referendum moet hou," sê Jean Henning van die plaas Sweetwaters. "Onthou, Louis Trichardt was ‘n vleigebied en Makhado was in die berge. Ek dink hulle moet die dorp uitlos en die telefoongids regmaak," sê Henning.

Wat die verandering van die naamborde langs die N1 betref, sê me. Wendy Watson van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap dat dit sal afhang of die Raad nog ‘n poging gaan aanwend om die naam te verander. Hulle gaan die borde dus nie dadelik terugverander nie.

"In sommige dorpe werk dit om twee name op te sit," sê me. Watson.

Sakevrou Jana Smith raak ‘n ander saak aan.

"Wat daarvan om die beeld van Louis Trichardt by die ingang van die dorp by die toerisme inligtingsentrum te hê?"

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines