

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 April 2007
Wydverspreide reën bring groot verligting en gaan ‘n verskil in die landbou maak.
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het gesê dat daar groot dankbaarheid heers in die streek na die wye reënval.
"Die reën kan nooit te laat wees nie. Ons gaan definitief nog grasgroei kry en bome se blare wat vroeg sou val, gaan nie meer vroeg val nie. Daar is reeds bome wat weer begin bot," het mnr. Joubert op 3 April gesê.
Joubert sê dat veeboere juig oor die reën. Daar is die vooruitsig om die diere deur die winter te kry en diere hoef nie meer teen ‘n verminderde prys verkoop te word nie.
Nog ‘n groot voordeel van die reën is dat die dreigende brandgevaar in die berggebiede en bosbougebiede nou tydelik iets van die verlede is.
"So 10 dae terug het ons ernstig gewaarsku dat brandbane in plek gekry moet word, want brandgevaar was baie hoog met die hoë temperature en die verdorde veld. Normaalweg maak ons gereed hier in Augustus, September en Oktober wanneer die groot brandgevaar kom. Ons het nou egter ‘n groot brandgevaar gehad. Daardie brandgevaar in ons uitgebreide gebiede is tot ‘n groot mate aangespreek deur die reën," sê Joubert.
Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Levubu Boerevereniging, het gesê dat tot 100mm gemeet was op 29 Maart. Tot op Sondag, 2 April, het mnr Dries Joubert gesê dat daar altesaam 220mm op Levubu gemeet is. Mopani het teen Sondag tussen 140mm en 160mm reën ontvang.
"Alhoewel meeste bome reeds blare afgegooi het, sal die reën help om die graspolle weer nuwe lewe te gee," berig die Mopani Boerevereniging (BV). In Louis Trichardt is by die munisipale reënmeter 64mm aangeteken op 30 Maart en 25 mm op 2 April, ‘n totaal van 89mm.
"Die reën het groot verligting gebring en die temperatuur gestabiliseer," het mnr. Fritz Ahrens van die Louis Trichardt BV gesê. By plekke op Alldays is daar ook in totaal reeds meer as 100mm gemeet. Die reën op Vivo het die grondvog verbeter wat ‘n hulp vir die aartappelboere is, aldus mnr. Japie van der Goot, voorsitter van die Bo-Brak BV. By Waterpoort sê mnr. Willem Helm dat die gras in die sandveld binnekort groen sal wees.
"Wat die komende seisoen betref, het daardie gebiede die verwagting dat ons lente nie so laat gaan wees nie," het mnr. Joubert gesê. Hy het die hoop uitgespreek dat die gebiede waar dit nog droog is, binnekort ook die gawe van reën sal ontvang.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
