ADVERTISEMENT:

 

Boer wat “bobbejaan” skiet skuldig aan moord

 

News  Date: 13 April 2007

 

Die 48-jarige Jewell Crossberg, ‘n boer van Musina, het verlede week begin met die uitdien van ‘n 20-jaarlange vonnis nadat hy skuldig bevind is op een klag van moord en vier van poging tot moord.

Crossberg is deur die hooggeregshof in Polokwane daaraan skuldig bevind dat hy in Junie 2004 ‘n 29-jarige Zimbabwiese man, Jealous Dube, op sy plaas Elberveld doodgeskiet het. Crossberg het ter verdediging aangevoer dat hy onder die indruk was hy skiet op ‘n bobbejaan.

Op Maandag, 2 April, het Crossberg se regspan ‘n aansoek by die hof ingedien dat die saak uitgegooi moet word. Hul aansoek was tweeledig van aard. Eerstens is die hof gewys op die absurde hoeveelheid onreëlmatighede aan die kant van die polisie-ondersoek. Dit het ingesluit gevalle waar getuies verklarings by getuies geneem het. Tweedens is die hof gewys op teenstrydighede in die Staat se saak, soos onder meer die afstand van die skote.

Regter Ronnie Boshielo het egter die aansoek van die hand gewys.

Crossberg is op Donderdag, 5 April, skuldig bevind op ‘n klag van moord, asook vier van poging tot moord deur Regter Boshielo. Hy is sommer ook dieselfde dag gevonnis tot 20 jaar gevangenisstraf op die klag van moord en vyf jaar gevangenisstraf op elk van die klagte van poging tot moord. Al die vonnisse sal gesamentlik uitgedien word en was onmiddellik van krag.

‘n Woordvoerder van Crossberg se regspan het Dinsdag vandeesweek gesê dat, alhoewel Regter Boshielo verlof tot appèl geweier het in die saak, hulle verdere regsaksie oorweeg. Hy het gesê Crossberg is uit die aard van die saak teleurgesteld met die vonnis.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines