

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 April 2007
Twee sigaretsmokkelaars is verlede week swaar vonnisse deur die streekhof op Louis Trichardt opgelê, nadat hulle in twee afsonderlike gevalle met onwettige sigarette ter waarde van etlike duisende rande in hul besit betrap is. In beide gevalle is die smokkelaars ook hul voertuie kwyt.
Sehlopo Arnold Ndebele is op Dinsdag, 3 April, skuldig bevind nadat hy in die Alldays-omgewing met sowat R145 000 se onwettige sigarette in sy besit betrap is. Ndebele is gevonnis tot twee jaar gevangenisstraf of ‘n boete van R20 000. Hy is ook ‘n verdere twee jaar gevangenisstraf opgelê, wat in geheel opgeskort is vir vier jaar op voorwaarde dat hy hom nie gedurende hierdie tydperk weer skuldig maak aan ‘n soortgelyke oortreding nie. Die Mercedez C180 en sleepwa wat deur Ndebele in die smokkelary gebruik is, is ook verbeurd verklaar aan die Staat.
In ‘n tweede smokkelsaak het Robert Maroping op Woensdag, 4 April, skuldig gepleit op ‘n soortgelyke klag in die hof, nadat hy met sowat R71 000 se onwettige sigarette op Dendron betrap is.
Maroping is gevonnis tot ‘n boete van R10 000 of 18 maande gevangenisstraf. Hy is ook ‘n verdere twee jaar gevangenisstraf opgelê wat in geheel opgeskort is vir ‘n tydperk van vier jaar, op voorwaarde dat hy hom gedurende dié tydperk nie weer skuldig maak aan ‘n soortgelyke klag nie. Die Ford-bakkie waarmee hy betrap is, is ook verbeurd verklaar aan die Staat.

ADVERTISEMENT:
