

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 April 2007
‘n Bekende inwoner van Louis Trichardt is van beide vaders- en moederskant afstammelinge van die trekkerleier Louis Tregardt (aanvanklike spelling) na wie die dorp vernoem is.
Carel Johannes Breytenbach (60), in wie se are Louis Trichardtbloed sommer van twee kante af loop, sê dat die naam Louis Trichardt vir hom en vir baie bevolkingsgroepe net goeie herinneringe het.
"Hy was baie verheug toe hy hoor die dorp is weer Louis Trichardt. En ek ook," sê Trudie, sy eggenote.
Carel se moeder, Susanna, was ‘n nooi Van Aardt en sy is die sesde geslag Van Aardt-afstammelinge van trekkerleier, Louis Tregardt se suster Susanna, wat met ‘n Van Aardt getroud is.
Carel se vader, Willem Hendrik Jacobz Breytenbach, is weer in die vyfde geslag afstammelinge van Louis Tregardt, deur sy seun Carolus Johannes Tregardt, wie se name Carel dan ook het. Carolus se eerste vrou is in Mosambiek dood en by sy tweede vrou, Zacharya, het hy ‘n dogter Catarina Elisabet Triegard (spelling het begin verander) gehad wat in 1922 oorlede is. Sy was getroud met Willem Hendrik Jacobz. Hulle dogter Marta Maria Jacobz is getroud met Carel Johannes Breytenbach: Carel se ouma en oupa.
By Carel se pa en ma het twee lyne dus bymekaar gekom. Carel verduidelik dit ewe grappig so:
"As Louis Trichardt nou ‘n koning was, dan was ek van die Van Aardt kant die sewende afstammeling en aanspraakmaker op die troon en van die Breytenbach kant die sesde afstammeling en aanspraakmaker."
Carel het as baba saam met sy ouers na Messina gekom "in 1947 in die tyd van die groot storm toe die kerk en skool se dak afgewaai het". Later, na hy met Trudie getroud is, was hulle in die sewentigerjare ‘n paar jaar op die Mara Navorsingstasie. Carel het van 1990 tot 1994 by Agriven gewerk en bedryf sedertdien as landboukonsultant sy eie besigheid. Vanaf Maart 1991 woon hulle in Louis Trichardt, die dorp met die naam van sy voorouer van twee kante.
"Die dorp is gevestig deur trekkers wat in die gebied ingetrek het en hulle het dit vernoem na die pionier wat die handelsroete na die noorde en ooste oopgemaak het, Louis Trichardt. Die historiese kommunikasie van die bevolkingsgroepe met Louis Trichardt was op handelsgebied. Hy was ‘n vredeliewende persoon," sê Carel. Hy sê dat dit jammer was dat die naam, Louis Trichardt, onnodiglik ‘n politieke speelbal geword het.
Carel en Trudie het vier seuns en vier kleinkinders. Die oudste kleinseun (9) is Carel Johannes Breytenbach. Klein Carel Johannes, ook vernoem na Louis Trichardt se seun, Carolus Johannes, is dus nou die agste geslag afstammelinge.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
