

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 April 2007
"Dit was blatante moord, nie roof nie!" So het ‘n familielid gereageer na die moord op me. Susan Bristow (54) by haar plaaswoning in die Witvlag-omgewing Sondagaand (15de).
Me. Bristow is net na 19:00 wreedaardig met ‘n tuinvurk vermoor, kort nadat sy teruggekeer het van ‘n ete-afspraak met haar broer en skoonsuster, Gavin en Leigh Bristow. Haar liefling boerboel hond, Tegan, is ook deur haar aanvallers doodgesteek.
Lede van die plaaswag het geskok geluister hoe sy histeries om hulp geradio het tydens die aanval op haar lewe. Alhoewel plaaswaglede binne sowat 20 minute by haar woning was, was dit reeds te laat. Haar liggaam is binne ‘n watertenk gevind.
Dit was egter nie die eerste aanslag op wyle me. Bristow se lewe nie. Op 29 Januarie, 2001, is sy onder soortgelyke omstandighede by haar huis deur twee mans oorrompel, kort nadat sy omstreeks 20:00 die aand van ‘n funksie in die dorp teruggekeer het. Die mans, wat haar ingewag het in haar huis, het haar vasgebind en herhaaldelik aangerand. Terwyl hulle egter besig was om haar huis te plunder, kon sy daarin slaag om te ontsnap en hulp te ontbied. Almal was destyds daarvan oortuig dat die mans haar sou vermoor het indien sy nie ontsnap het nie.
Soos met die aanval in 2001, bestaan daar ‘n sterk vermoede dat sy Sondagaand doelbewus deur haar moordenaars ingewag is.
"Dit is ‘n aaklige, aaklige tragedie ... Dit was moord, nie roof nie!" het skoonsuster Leigh gesê. Haar vermoede is versterk deur die polisie. Volgens supt. Ailwei Mashavhanamadi, polisiewoordvoerder van die Vhembe-streek, word niks vanuit die huis of van me. Bristow vermis nie.
Susan Alwin Bristow is op 10 Oktober, 1952, op Louis Trichardt gebore. Sy was die oudste dogter van John en Patricia Bristow. Sy het grootgeword tussen die Bristows se familiewoning, "Ridgeways", op die Witvlag-pad, die plaas Sentinel langs die Limpopo en haar ma se woning in Pretoria. Susan het haar skoolloopbaan by Laerskool Soutpansberg begin en voltooi by St Andrews in Johannesburg. Sy het later kuns studeer by Michaelus in Kaapstad en haarself bekwaam as ‘n hoogs oorspronklike en eksentrieke kunstenaar met ‘n eie unieke styl wat haar liefde vir die natuur en wildlewe weerspieel het.
Me. Bristow het in 1993 teruggekeer na die Soutpansberg en begin met die bou van haar buitengewone huis op haar bergeiendom. Haar huis, ‘n mosaïek van uitgesoekte klippe en loodglasventers, omring met asemrowende natuurskoon, was haar trots en sy het voortdurend tyd en energie daaraan spandeer. Baie sal haar onthou waar sy in haar tuin met haar breë strooihoed gewerskaf het, omring met haar geliefde versameling bokke, honde, katte en pluimvee.
"Ten spyte van verskeie aanvalle, eindelose geworstel en die afgeleënheid van haar bergeiendom, het Susan standvastig geweier om uit vrees afstand te doen van haar huis wat sy met soveel sorg en liefde in die berge gebou het," sê Leigh.
‘n Boesemvriend van wyle me. Bristow, me. Helene Jaume het haar beskryf as "die braafste vrou wat ek ken".
‘n Roudiens word Saterdag, 21 April, om 15:00 vir me. Bristow by haar plaaswoning gehou. Sy word oorleef deur haar broers en susters Gavin, Digby, Colin, Jane, Doric, Tuffen en Tegan en niggies en nefies Kim, Ash, Alistair, Adam, Emily, Tarquin, Casper-John, Aidan, Owen and Isabel. Die familie het hul dank uitgespreek teenoor die plaaswag en al me. Bristow se vriende vir hul ondersteuning. ‘n Spesiale woord van dank is gerig aan die Jaume-familie.
Die moord van me. Bristow volg byna presies ‘n jaar na die koelbloedige moord van prominente plaaslike sakeman en inwoner mnr. Ben Fisser en die skietvoorval waarin nog ‘n prominente sake-egpaar, André en Petro van den Berg, byna noodlottig gewond is. Mnr. Fisser is op 9 April verlede jaar by sy woning in Kroghstraat koelbloedig deur die slaapkamervenster doodgeskiet. ‘n Paar dae later is die Van den Berg-egpaar ook deur hul slaapkamervenster geskiet. ‘n Verdagte is ‘n paar maande na die skietery aangekeer. Die hoop is uitgespreek dat die polisie spoedig me. Bristow se moordenaars sal aankeer soos in die geval van sakevrou mev. Ria Pretorius se wrede skietdood op 2 Januarie vanjaar langs die Thohoyandou-pad. Een van die verdagtes in die saak is doodgeskiet toe hy op die polisie begin skiet het. Die voorsitter van die TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, het sy medelye met die Bristow-familie betuig en inwoners opgeroep tot paraatheid. Hy sê inwoners moet nie moedeloos raak nie, maar meer paraat na mekaar omsien.
"Dié moord, en die ander moorde wat die afgelope jare in die gebied plaasgevind het, kan maklik ‘n gemeenskap in vertwyfeling laat. Lede van die gemeenskap word opgeroep om saam te staan en mekaar ook emosioneel te ondersteun," het Joubert gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
