ADVERTISEMENT:

 

Na afloop van ‘n begrotingsvergadering gehou deur die DA vir Wyke 20 en 21, het verskeie rolspelers nog verder beraadslaag. Voor, van links, is raadslede Brian du Plooy en Jacques Smalle en mnr. K. J. Nethamba, voorsitter van die Makhadopark Siviele Organisasie. Agter is me. Anette Kennealy van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, mnr. Alec Smail van die Bestuurskomitee van Buysdorp en mnr. Lucas Masindi, sekretaris van die Makhadopark Siviele Organisasie.

Inwoners moet van gemakstoele afklim en betrokke raak

 

News  Date: 20 April 2007

 

Die gemeenskap het ‘n belangrike kans om insette in die munisipale begroting te lewer.

Volgens die Munisipale Finansiële Bestuurswet, omsendbrief 41, het die publiek kans tot 30 April om voorleggings te maak. Inwoners van Louis Trichardt is gemaan om van hulle gemakstoele af te klim en betrokke te raak.

Annette Kennealy van die Soutpansberg Belastingbetalingsvereniging het gesê, " ‘All that is required for evil to triumph, is that good men do nothing’, het Eduard Burke gesê en as ek in ons dorp rond kyk, dan is dit die geval … Betrokkenheid in die gemeenskap is die sleutel … Nou is die tyd om te verhoed dat R6.3miljoen net eenvoudig weer wegraak!"

Die munisipale begroting vir 2007/8 is einde Maart ter tafel gelê. Die Makhado Munisipaliteit beraam ‘n 22 % toename in die personeelbegroting en ‘n 64% toename in die Raadslidtoelaes. Die voorgeskrewe groei is 3 tot 6%. Daarteenoor vorm die begroting vir onderhoud net 8% van die operasionele begroting. ‘n Goeie bestuur behoort minstens 15% vir onderhoud te begroot. Die begroting vir onderhoud is R20.5 miljoen teenoor die R38 miljoen in 2004/5 toe onderhoud 17% van die begroting uitgemaak het.

Die operasionele begroting vir 2007/8 is R251 miljoen. Die personeel beramings is R111 miljoen teenoor die R90.9 miljoen van die vorige boekjaar. Raadslede se toelaes se begroting styg van R8 miljoen na R13 miljoen.

Tydens ‘n begrotingsvergadering vir die dorp (Wyke 20 en 21) op 12 April in die Ferdie Beyerssaal, het DA-raadslede gesê dat die dorp 70% van die munisipale heffings en belastings dra en die buitewyke of sogenaamde R293 dorpe slegs 4%. Daar is beklemtoon dat die skuld met 29% gegroei het tot R64 miljoen.

"Die skuld groei ook as gevolg van die swak invordering vanaf die buitedorpe. Ons moet ‘n groter basis van inkomste vanaf die R293 dorpe kry," sê die DA.

Tydens die vergadering het sprekers opgetree wat die Distrik Landbou Unie verteenwoordig, asook die Voorsittersvereniging, die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, Soutpansberg Sakekamer, Buysdorp en die Makhadopark Siviele Organisasie.

Volgens die IDP-ontwikkelingsplan kan die gemeenskap spesifieke ontwikkelingsprojekte op die begroting kry. Tshikota het verskeie projekte en Vleifontein het ook ‘n paar.

"Ons benodig dringend u praktiese insette hier. Van die R76 miljoen wat die dorp inbring, behoort 20 tot 30% teruggeploeg te word. Wees spesifiek met die projekte," het DA-raadslede gevra.

Vanaf 1 tot 15 Mei oorweeg die Raad voorleggings van onder andere plaaslike gemeenskappe. Vanaf 16 tot 31 Mei word die finale begroting deur die burgemeester voorgelê, wat teen 31 Mei deur die Raad goedgekeur moet wees.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines