ADVERTISEMENT:

 

Die sake-egpaar André en Petro van den Berg, vandeesweek by hul onderneming, presies ‘n jaar nadat hulle ‘n nagmerrie aanval in hul woonhuis op Louis Trichardt oorleef het.

‘n Jaar later is nagmerrie-ondervinding nog vars in die geheue

 

News  Date: 20 April 2007

 

"As ‘n mens nie in so iets was nie, besef jy nie werklik wat die mense rondom jou beteken nie – mense van alle bevolkingsgroepe. Hulle was en is steeds wonderlik goed vir ons. Ons waardeer Louis Trichardt. Dit is ‘n wonderlike dorp met wonderlike mense," sê die bekende plaaslike sake-egpaar André en Petro van den Berg.

Vandeesweek, presies ‘n jaar gelede (op 18 April – twee dae voor hul huweliksherdenking op 20 April), is die egpaar in die vroeë oggendure deur die venster van hul slaapkamer deur ‘n aanvaller geskiet. André het wonderbaarlik ontkom toe ‘n koeël skuins deur sy bors sy hart gemis het. Die koeël het Petro, wat agter hom regop in die bed gesit het, in die kop getref. Die koeël is in ‘n noodoperasie verwyder en verskeie ander operasies het gevolg om die skade te herstel.

"Vandag wil ons net graag dankie sê vir die gemeenskap se wonderlike bystand. As dit nie was vir die genade van die Here en die bystand van mense nie, sou ons nie so volmaak kon herstel nie. Hulle het vir ons gebid, bygestaan, bemoedig, besoek en met boodskappe onderskraag."

Petro is op die oog af weer haar spontane vriendelike self, maar besoek vandeesweek weer twee spesialiste in verband met ‘n lastige balansversteuring.

"Ek kan nog nie weer met veiligheid kar bestuur nie, maar ek is vol vertroue op volkome herstel," sê Petro. Sy was die afgelope tyd dikwels moeg en soms naar. Die besoek aan die spesialiste in Polokwane sal hopelik meer lig werp op die probleem.

"In die algemeen is daar egter elke dag verbetering."

Sy is vir ‘n geruime tyd reeds voltyds terug by die werk, maar praat met groot waardering van die hulp wat sy van Mark en Dalene Wingrove ontvang. Hulle het verlede jaar na die skietvoorval voltyds vir Petro ingestaan.

"Ek is baie dank aan hulle verskuldig. Hulle werk steeds hard en ek is gelukkig en tevrede met die stand van ons sake."

Oor die traumatiese gebeure van ‘n jaar gelede sê Petro: "Dis ‘n skokkende nagmerrie, terwyl dit aan die gang is. Maar nadat ‘n mens deur dit alles beweeg het en met alles wat jy in die proses beleef en ervaar van jou Skepper en ook van medemense, dan kom jy geestelik verryk, as ‘n heeltemal nuwe mens aan die anderkant uit."

Die wrede, noodlottige aanval op Sue Bristow, wat bykans presies ‘n jaar na die aanval op die Van den Berg egpaar kom, het die egpaar erg ontstel.

"Dit lyk werklik of die hel los is," sê Petro.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines