ADVERTISEMENT:

 

Louis Trichardt maak gereed vir sy eie kunsfees

 

News  Date: 20 April 2007

 

Ons land is besig om kunsfees-mal te raak! Uit die uithoeke van Suid-Afrika kom mens te hore van die talle kunsfeeste soos die Kierieklapperfees, die Wortelfees op Krugersdorp, Inniebos op Nelspruit, Aardklop en die KKNK. Inwoners van die Soutpansberg kan egter ook nou hul vere begin regskud vir Louis Trichardt se eie kunsfees, die Zoutpansbergse Kuns- en Kultuurfees.

"Kom manne, kom dames, kinders, babas, peuters en pensioenarisse, kom trek laer! Op 26, 27, 28 Julie trek ons op na Louis Trichardt Hoërskool se sportgronde," nooi die organiseerders.

Die fees beloof Afrikaanse pret en plesier vir ‘n ieder en elk. Doempels die Nar kom die kinders vermaak, terwyl die seuns en manne hul kan verlustig aan die beste stoeiers. Die Maak ‘n las-span, tesame met Andries Kroghman wat kom kos maak, sal ook daar wees. Die Fiesta-span met Fransie kom ook kuier vir diegene wat op televisie wil wees.

Die streek se skoonhede sal ook weer sake uitspook om die Mnr. en Mej. Expo titels. George van 7de Laan-faam sal die gaskunstenaar van die aand wees. Die meer waaghalsiges kan kom kyk na Frank Opperman in sy eenman vertoning "Die uwe Pottie Potgieter" die Vrydagaand na die kroning van die streek se mooistes!

Soos gewoonlik het die organiseerders ook aan besoekers se mae gedink. Kultuurkosse soos afval, boereworsrolle gebraai op oop vure, pannekoek en biltong gaan in oorvloed wees.

Vir meer inligting, skakel Greta Fourie by tel. 082 820 4648.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines