

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 April 2007
Inwoners van Louis Trichardt staar weer ‘n ernstige watertekort in die gesig, terwyl andere in sekere dele van die dorp reeds sedert Maandag sonder water is.
Die Mowkop-reservoir het Woensdag op 38% gestaan met genoeg water tot ongeveer Vrydag. Die Tshikota-reservoir was reeds in daardie stadium so leeg dat dit volgens inligting net water sou hê tot Donderdag.
Kort ná ‘n onderhoud Woensdagoggend met mnr. Masindi Mapholi, die munisipale direkteur van tegniese dienste, oor die probleem is ‘n verklaring ontvang waarin inwoners om verskoning gevra word vir die onderbreking in watervoorsiening in sekere dele van die dorp. Redes aangevoer ir die onderbreking was dat die pomp wat die water vanaf die Albasinidam na die dorp moet pomp, onklaar geraak en ontkoppel is (Dié pomp sal, volgens inligting, eers teen die naweek weer in werking gestel kan word). Daar is ook genoem dat die volgehoue vandalisme aan die Raad se boorgatnetwerk en watervoorsieningsinfrakstruktuur ook regstreeks tot die krisis bygedra het. Die verklaring maak verder melding dat munisipale vragmotors water na woongebiede sal bring vir huishoudelike gebruik alleenlik, maar geen datums of tye van wanneer en waar die vragmotors sal wees, word verskaf nie.
In die onderhoud met mnr. Mapholi het die Raad se onvermoë om voortgesette watervoorsiening aan inwoners te handhaaf weer onder die soeklig gekom. In verskeie vorige berigte het die Raad reeds aangedui dat watertekorte ‘n gegewe is wat vir etlike jare nog sal voortduur totdat die beloofde waterpypleiding vanaf die pas voltooide Nandonidam gereed is. Baie voel egter dat die dorp se heersende waterkrisis niks te doen het met ‘n fisiese watertekort nie, maar eerder met ‘n ontoereikende infrastruktuur. Die vraag word gevra hoe die "nuwe pyplyn" nou eintlik die probleem gaan oplos as die infrastruktuur in die dorp nie dringende aandag en opgradering geniet nie.
Alhoewel dit nie in die verklaring genoem word nie, het mnr. Mapholi gesê die sporadiese watertekort in die dorp kan ook toegeskryf word aan die gebrekkige infrastruktuur en verouderde pype wat gereeld bars. Bewyse hiervan is orals sigbaar in die dorp waar duisende liters water verlore gaan.
Mnr. Mapholi het gesê dat die Raad nog binne die huidige finansiële jaar ‘n nuwe pompstasie vanaf die Albasinidam in werking gaan stel, asook ‘n addisionele reservoir vir die dorp gaan bou. Gedurende die 2007/8 finansiële jaar sal die pyplyn vanaf die Albasinidam, volgens hom, opgegradeer word.
"Eers wanneer ons massa-watervoorsiening kan waarborg, sal daar in fases begin word om die watervoorsieningsinfrakstrutuur in die dorp op te gradeer," het Mapholi gesê.
Dié nuus hou egter min vertroosting in vir inwoners wat reeds vir ‘n geruime aantal maande (selfs jare) die ongerief van watertekorte moet verduur. Te midde hiervan het mnr. Mapholi inwoners versoek om water spaarsaam te gebruik.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
