

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 April 2007
Omstanders het Saterdagmiddag, 21 April, met verwondering gestaan en kyk hoe die polisie, volgens die omstanders, versuim het om op te tree teen ‘n persoon wat ‘n plaaslike besigheidsman met ‘n vuurwapen gedreig het by sy sakeonderneming in Pretoriusstraat. Daar is ook na bewering ‘n skoot afgevuur.
Lede van die Soutpansberg Dorpswag het Saterdag berig ontvang dat ‘n man ‘n vuurwapen gerig het op die besigheidsman. Mnr. Johan Nel was eerste op die toneel en sê hy het nog gesien hoe die man die vuurwapen op die besigheidsman gerig hou. Eers toe die eerste polisievoertuig om die draai gejaag gekom het, het die man sy vuurwapen onder sy baadjie ingedruk.
Terselfdertyd is die Zoutpansberger geskakel. Volgens Johan het die polisie nie eers die man deursoek, gevra vir sy vuurwapen of vir sy vuurwapenlisensie nie. Wat daarna gevolg het was ‘n proses van "onderhandeling" tussen die skieter en die besigheidseienaar. Lede van die dorpswag en ander omstanders het later maar van die toneel onttrek met ‘n paar vrae in hul gemoed.
Insp Ndwamato Vele, plaaslike polisiewoordvoerder, is na afloop van die voorval genader vir kommentaar oor waarom die polisie nie opgetree het teen die skieter nie.
Insp Vele het bevestig dat die skieter inderdaad ‘n polisiebeampte is, blykbaar ‘n kaptein. Blykbaar het die polisieman sy voertuig by die besigheid ingehandig vir herstel. Die voorval het gevolg na ‘n onderonsie tussen die eienaar van die besigheid en die polisiebeampte toe dit kom by die betaalslag.
Insp Vele sê die polisieman is nie gearresteer nie, aangesien die besigheidsman nooit ‘n saak kom oopmaak het nie. Die polisie se hande, sê insp. Vele, is spreekwoordelik afgekap in hierdie geval.
Nie tevrede met die antwoord nie, het die Zoutpansberger mnr. Reino Mostert (beheeraanklaer) geskakel vir sy siening. Ook mnr. Mostert het insp. Vele se kommentaar gedeel en gesê dat sou die saak ooit in die hof beland, skuld moeilik bewys sal kan word aangesien daar nie ‘n klaer is nie.
Insp Vele het die publiek uitgenooi om alle klagtes aan te meld en gesê die betrokke besigheidsman kan steeds ‘n saak open as hy wil.

ADVERTISEMENT:
