

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 April 2007
"Welkom tuis" plakkate en ballonne teen die voorhek was deel van die feestelike verwelkoming vir Wimpie McDermott toe hy verlede Woensdag huis toe gekom het, na bykans sewe weke in die hospitaal.
Gemeentelede van die plaaslike AGS het gesorg vir dié verwelkoming met plakkate wat die hele gemeenskap se dankbare blydskap verwoord het.
Wimpie is op 3 Maart ernstig beseer in ‘n motorongeluk, waarin hy veelvuldige beenbreuke en ernstige inwendige beserings opgedoen het. Hy was vir ‘n geruime tyd in ‘n intensiewe sorgeenheid in Polokwane. Selfs nadat hy sy bewussyn herwin het en sy hartfunksie gestabiliseer is, moes hy vir ‘n geruime tyd gekoppel bly aan toerusting wat onder meer moes help om long- en nierbeserings te oorbrug.
Die hele gemeenskap van Louis Trichardt het intense meelewing getoon. ‘n Hulpfonds is in die lewe geroep om die reuse mediese koste te help dek. In die meeste gemeentes is ook gereeld vir Wimpie en sy gesinslede voorbidding gedoen. Op 3 Mei gaan verskeie bekende kunstenaars optree in ‘n konsert wat personeellede van Zoutpansberg Meule gereël het ten behoewe van Wimpie se voortgesette mediese uitgawes.
Pastoor Johan van Rensburg, wat deurentyd as segspersoon vir die gesin opgetree het, het verlede week gehelp om Wimpie gerieflik tuis te besorg.
"Hy lyk goed en ons is almal dankbaar oor sy merkwaardige herstel," sê pastoor Van Rensburg.
Wimpie gebruik nog ‘n loopraam om veilig oor die weg te kom en moet daagliks fisioterapie ontvang om algehele spierherstel te bevorder, maar hy kon reeds weer verlede Sondag die erediens in sy gemeente bywoon. Hy gesels maklik en sê die verwelkoming met sy tuiskoms was ‘n aangename verrassing. Van die noodsaaklike uitgerekte verblyf in die hospitaal onthou hy gelukkig baie min. Die belangrikste onmiddellike mikpunt is nou om met gereelde oefening ook fisies volkome te herstel.
Sy moeder, mev. Ina McDermott, wat die meeste van die tyd by hom in die hospitaal was, help ook nou met die daaglikse oefensessies.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
