ADVERTISEMENT:

 

Me. Cobie Mostert.

Eerste vrouehoof vir Eric Louwtjies

 

News  Date: 27 April 2007

 

Hoërskool Eric Louw het verlede Donderdag, 19 April, amptelik kennis ontvang dat me. Cobie Mostert aangestel is as die nuwe hoof van die skool.

Die beheerliggaam, personeellede, skoliere en ouers is verheug oor die nuus en het volle vertroue in me. Mostert as die beste kandidaat vir die pos.

Na ‘n jaar en drie maande waarin me. Mostert reeds as hoof waargeneem het, het sy bewys dat sy daartoe in staat is om die skool tot nuwe hoogtes te voer. Op akademiese vlak het die matrikulante van 2006 vanweë haar aansporing goeie uitslae behaal en spog die skool met ‘n kandidaat wat die sewentiende plek in die provinsie behaal het.

Leerlinge het op die gebied van sport getoon dat, hoewel die skool ‘n rapsie meer as 400 leerlinge het, hulle geen tree agteruit hoef te staan vir skole van dubbel hul grootte nie: die swemspan behaal ‘n tweede plek met interhoër; vier hokkiespelers gaan neem provinsiaal deel en rugby lewer sewe provinsiale spelers op. Sy leer die leerlinge dat deursettingsvermoë puik resultate lewer, want juis hierdie aansporing het die leerlinge wat aan die 2006 revue deelgeneem het laat besef dat, al moet ‘n mens in die bestek van beperkte tyd harde, lang ure oefen en nogmaals oefen, pluk ‘n mens aan die einde wel die vrugte van sukses.

Me. Mostert se waarnemingstydperk het nie sonder stampe en stote geskied nie. Terugskouend het die jaar 2006, wat grootliks gekenmerk was deur verskeie tragiese insidente, juis me. Mostert se sterk kwaliteite as leier by uitnemendheid getoon. Ten spyte van al die leed het sy kalm, ondersteunend, en vertroostend opgetree, ‘n ware steunpliaar vir haar personeel, leerlinge, asook die gemeenskap.

Me. Mostert en haar gesin het in 1993 na Musina verhuis, waar sy en haar man, mnr. Johan Mostert, by Eric Louw personeel aangesluit het. Sy is aanvanklik aangestel in die hoedanigheid as departementshoof van natuurwetenskappe en het wiskunde onderrig.

 

Written by

Colleen van Staden

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines