

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 April 2007
Booswigte het verlede Woensdagoggend (18de) ‘n spoor van verwoesting gelaat by een van twee inbrake by besighede in Industriastraat.
‘n Moedelose mnr. Herman Smit van Louis Trichardt het voor sy besigheid, Qwemico Verspreiders, gestaan en wag vir lede van die polisiestasie. Hy het aan die Zoutpansberger gesê dat dit al die vierde inbraak by sy besigheid is, die tweede in ‘n maand se tyd.
Smit sê die vorige inbraak het oor die Paasnaweek plaasgevind, toe booswigte ‘n mikrogolfoond, ‘n ketel, koffiebekers en selfs gordyne gesteel het.
Smit is Woensdagoggend deur mnr. Jaco de Bruin van Hygrotech geskakel en van die inbraak ingelig. Hy moes inderhaas terugry van Tzaneen af.
Die veiligheidsdeur by Qwemico is oopgeforseer, waarna toegang deur die voordeur probeer bekom is. Die booswigte het egter toe nie die voordeur gebruik nie en toe maar die diefwering by die kombuisvenster geknip om so toegang te verkry.
Behalwe vir bogenoemde skade, is koppies op die kombuisvloer stukkend gegooi en die sekuriteitsogie van die muur afgepluk. Talle kombuisware en ander goedere is gesteel. Smit het navraag gedoen oor waarom die sekuriteitsmaatskappy nie op die alarm reageer het nie, waarop hy meegedeel is dat sekuriteitsbeamptes wel uitgekom het, maar niks verkeerd kon sien nie.
Na die inbraak by Qwemico het die booswigte oorbeweeg na Hygrotech. Volgens me. Hannelie Dippenaar is dit die tiende keer dat daar by Hygrotech ingebreek word. Gelukkig was die skade by dié besigheid baie minder, danksy die vinnige reaksie van ‘n nuwe sekuriteitsfirma wat onlangs deur Hygrotech aangestel is.
Die booswigte het net tyd gehad om ‘n venster te breek. Die alarm het dadelik afgegaan, en hulle kon net die gordyne steel. Jaco sê hy is dadelik deur die sekuriteitsfirma geskakel, waarna hy na sy sakeperseel toe gery het.
Insp Ndwamato Vele, woordvoerder van die plaaslike SAPD, het by navraag gesê hy is bewus van die inbrake. Hy sê die polisie ondervind ‘n geweldige probleem met die digte bosse agter besighede in Industriastraat en dat hulle al verskeie kere die probleem met die munisipaliteit opgeneem het, sonder sukses. Vele het bygevoeg dat daar tans drie polisievoertuie is wat die Industriële gebied patrolleer. Die polisie is ook tans besig met ‘n projek om op gereelde basis die digte veld te fynkam vir kriminele.

ADVERTISEMENT:
