ADVERTISEMENT:

 

Padagentskap sê Makhado-borde bly

 

News  Date: 04 May 2007

 

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Bpk (SANPAB) gaan voorlopig nie die Makhado-padtekens langs die N1 noord verander nie, ongeag die Appèlhof se uitspraak waarin die oorspronklike naam van Louis Trichardt herstel is.

‘n Woordvoerder vir die SANPAB, me. Wendy Watson, het vandeesweek by navraag gesê die tekens gaan nie onmiddellik verander word nie, in die lig van die moontlike hernieude aansoek om ‘n naamsverandering wat deur die plaaslike munisipaliteit gebring gaan word.

Mnr. André Naudé, voorsitter van die Voorsittersvereniging (VV), het in antwoord op die SANPAB se standpunt gesê dat hulle daarop aandring dat die naamborde langs die N1 onmiddellik terug verander moet word in ooreenstemming met die hofuitspraak. Die VV het op 29 Maart suksesvol hul saak in die Bloemfonteinse Appèlhof gewen ten gunste van die naam Louis Trichardt.

"Ons het hulle aan die begin van die naamsveranderingsproses gewaarsku dat hulle nie die name moet verander nie. Die padagentskap het egter toe voortgegaan met die verandering van die naamborde. Hoekom kan dit nie nou terugverander word nie? Om te sê hulle wil wag aangesien die proses voortduur, is onsinnig want wanneer die saak weer in die hof uitgedaag word, kan die proses weer vier of vyf jaar duur. Dit sal duur tot na die 2010 sokker Wêreldbeker, wat totale verwarring gaan veroorsaak," het Naudé gesê.

Die SANPAB is ook genader na aanleiding van ‘n formele skriftelike navraag wat deur die TLU SA Noord gerig is.

Die voorsitter van die TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, sê in ‘n verklaring die streekkantoor het opdrag ontvang om met die SANPAB in verbinding te tree "sodat die onwettige Makhado padtekens" verwyder kan word.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines