

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 May 2007
Verkeer op die N1 noord van Louis Trichardt is verlede Donderdag, 26 April, vir meer as nege ure ontwrig, toe ‘n tenkwa met swawelsuur omgeslaan en dwars oor die pad op sy sy te lande gekom het. Twee mense is in die ongeluk beseer.
Sowat 20 van die 30 ton swawelsuur, wat onderweg was na Zambië, het in die ongeluk uitgemors en langs die teerpad afgestroom.
‘n Verkeersbeampte op die toneel het gesê die ongeluk het omstreeks 06:00 Donderdagoggend plaasgevind, toe die tenkwa en ‘n bakkie van voor teen mekaar gebots het. Die bakkie is onderdeur die stuurkajuit van die tenkwa en het die swaarvoertuig se hele vooras met wiele uitgeruk. Die bestuurders van altwee voertuie is beseer en na die hospitaal afgevoer.
Die tenkwa kon nie uit die pad verwyder word, alvorens die oorblywende 10 ton swawelsuur uit die vragruim na ‘n ander tenkwa oorgepomp is nie. Finale opruiming van die massiewe suurstorting kon eers etlike ure ná die ongeluk begin. Verkeer in beide rigtings moes van die teer af beweeg en is langs ‘n tydelike grond ompad herlei deur lede van die SAPD en die provinsiale verkeersowerheid.
Opruiming van die gevaarlike vrag is Donderdag namiddag behartig deur ‘n spesialis onderneming uit Polokwane.
‘n Woordvoerder van die onderneming het by navraag gesê die laag bogrond, waarin die suur weggesak het, moet geheel en al verwyder word en daar is geen gevaar dat die suur verdere skade kan aanrig aan die omgewing nie. Gras en plantegroei wat in die padreserwe aan die suurstorting blootgestel is, is pikswart verskroei soos in ‘n veldbrand.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
