ADVERTISEMENT:

 

Die onpadwaardige passasiersbus, hoog gelaai met bagasie van mense wat vanaf Zimbabwe na Gauteng onderweg was, staan hier geskut by die munisipale toetssentrum op Louis Trichardt. In die inlasfoto rus van die passasiers op die teerblad op die toetsterrein, waar hulle saam met die bus moes oornag.

Passasiers se nagmerrie busrit wil net nie ophou nie

 

News  Date: 04 May 2007

 

Altesaam 35 buspassasiers vanaf Zimbabwe was vandeesweek vir meer as twee dae op Louis Trichardt sonder kos of blyplek gestrand. Onder die passasiers was etlike vroue en ‘n moeder met ‘n klein baba.

Die passasiers, wat na verskillende bestemmings in Gauteng, Kwazulu-Natal en die Kaap onderweg was, moes op Louis Trichardt twee nagte in busse oorslaap, nadat die een bus deur die verkeersowerhede geskut is weens onpadwaardigheid en die plaasvervangende bus ook probleme opgedoen het.

Die ontwrigting vir die passasiers het Maandag begin, toe munisipale verkeersbeamptes in Louis Trichardt die bus afgetrek en geskut het. Die passasiers en hul bagasie is saam met die voertuig na die munisipale toetsterrein op die dorp gebring, waar die voertuig geberg is. Die passasiers moes Maandagnag in die bus op die toetsterrein oornag, terwyl ‘n plaasvervangende bus na die dorp ontbied is.

Die plaasvervangende bus is deur die provinsiale verkeersowerhede digby die dorp voorgekeer en by die provinsiale verkeerskantore aangehou, nadat vasgestel is dat daar ‘n lasbrief teen die bestuurder uitgereik is weens verskeie onafgehandelde sake wat uit vorige oortredings voortgevloei het.

Terwyl die buseienaars die toenemende probleme probeer uitsorteer het, het die ongerief van die passasiers krisisafmetings begin aanneem, aangesien die dagrit waarop hulle hul voorberei het, skielik onbepaald voortgeduur het. Talle van hulle het geen komberse saamgebring nie en almal was sonder kos en sonder bykomende geld. Verskeie van die passasiers moes Woensdagoggend reeds by hul werksplekke in Johannesburg aanmeld.

Die plaasvervangerbus, wat uiteindelik Dinsdagmiddag beskikbaar geraak het, het egter net sowat agt kilometers op die N1 gevorder, voordat dit ernstige meganiese probleme opgedoen het. Die passasiers moes Dinsdagnag weer in die bus oornag, waar dit langs die pad gestrand gestaan het.

Inwoners van die dorp, wat van die passasiers se probleme te hore gekom het, het hulle Dinsdagmiddag en –aand met sop en toebroodjies bedien.

Van die passasiers moes noodgedwonge alternatiewe rygeleenthede vir hulle organiseer, terwyl sestien nog laat Woensdagoggend by die bus gewag het. Al die oorblywende passasiers is uiteindelik Woensdag kort voormiddag met ‘n alternatiewe busgeleentheid verder vervoer.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines