

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 May 2007
Oom Danie Lourens van Louis Trichardt en sy ou skoolvriend en werkskollega, oom Louis Lessing, se paadjies het na 60 jaar weer gekruis danksy Radio Pretoria.
Die twee ou vriende het verlede week mekaar vir die eerste keer gesien toe Louis vir Danie hier in die dorp kom kuier het. Louis sal egter gou vir jou vertel dat die dorpie nie so maklik was om te kry nie, aangesien geen van die padname meer daarna verwys nie.
Uiteindelik het hy na ‘n telefoniese gesprek met Danie by ‘n vulstasie gestop, waar die petroljoggie hom gou-gou vertel het wat die ou name is.
Die ou vriende het Donderdag saam gesit en hulle storie vir die Zoutpansberger vertel.
Danie en Louis is in 1945 saam op Middelburg Hoër Tegniese skool gewees, waar hulle vriende geword het. Hulle het twee en ‘n half jaar saam skool gegaan, totdat hulle saam begin werk het by ‘n firma in Standerton met die naam Ecckels en Benwood.
Daarna het die vriende se paaie geskei. Louis is weg en volgens Danie, het hy nooit ordentlik gegroet nie.
Dit is egter nie dat Louis nie wou nie, maar dat hy nie geweet het dat hy nie weer by die firma sou uitkom nie.
Danie het later na Louis Trichardt verhuis en het nie ‘n idee gehad wat van sy ou vriend geword het nie.
Radio Pretoria het begin met ‘n program wat mense help om ou kennisse op te spoor.
Danie het ingeskakel met inligting oor sy vriend. Op daardie spesifieke tydstip het Louis na die program geluister maar het eers gesnap dit is sy ou vriend Danie toe Danie sy bynaam "Koevoet" gebruik.
Louis sê hy het geskarrel om die nommer te kry, maar was te laat. Hy het toe maar self die radiostasie geskakel en die kontakbesonderhede gekry.
En die res, soos hulle sê, is geskiedenis. Beide vriende is nou 78 jaar oud en Louis vertel dat Danie nog altyd soos sy ouboet is en dat Danie hom ook soos ‘n jonger broer behandel het.

ADVERTISEMENT:
