

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 May 2007
Grootskaalse residensiële uitbreiding, wat ook hoë digtheidsbehuising insluit, maak deel uit van die beoogde tweede fase van die Black Hawk gholflandgoedontwikkeling aan die suidwestelike oewer van die Albasinidam naby Louis Trichardt.
‘n Omgewingsimpakstudie is nou aan die gang in die aanliggende grondgebied waarop die tweede fase van ontwikkeling beplan word. Die bykomende gedeeltes van die plase Goedehoop en Wolferoode lê van oos na wes in bykans ‘n perdehoefformasie rondom die bestaande gholflandgoedontwikkeling.
Dié tweede-fase beplanning maak voorsiening vir weelderige groot erwe van 8 000m² elk met ‘n enkelwoning daarop aan die westekant van die bestaande ontwikkeling asook ‘n verskeidenheid smaakvolle variasies van meer ekonomiese hoë digtheidsbehuising, wat wissel van meenthuiskomplekse tot hoër digtheid trosbehuising aan die oostelike flank van die huidige ontwikkeling.
‘n Museum, crèche, boothuis en private sportsentrum maak ook deel uit van die beoogde tweede fase.
‘n Woordvoerder van die onderneming wat die omgewingsimpakstudie behartig, me. Engela Grobler van Envirodel Wildlife and Ecological Management, het vandeesweek by navraag gesê die museum word ingerig rondom die ryke geskiedenis van die betrokke area. Die museum-area sluit ook waardevolle ou aanplantings van inheemse bome in.
Gevra na die uitslag van die vergadering van belanghebbendes, wat teen die middel van April gehou is, het me. Grobler gesê besware teen die beoogde bykomende ontwikkeling het veral te make met die aard en omvang van die beplande hoëdigtheidskomponent van die bykomende residensiële ontwikkeling. Die besware word in aanmerking geneem in die finale beplanning.
Sy sê die kenmerkende eksklusiewe voorsiening vir hoë-inkomste groepe in gholflandgoedontwikkelling veroorsaak toenemende weerstand by owerhede en inwoners in die land. Die bykomende residensiële ontwikkeling in die tweede fase maak voorsiening vir ‘n redelike breë spektrum van inkomstegroepe, sonder om die oorwegend landelike, omgewingsvriendelike atmosfeer te benadeel.
Oor die probleem van grondeise in die betrokke omgewing, sê me. Grobler die grondeis wat bestaan het ten opsigte van ‘n gedeelte van Goedehoop is ná onderhandelings opgehef. Onderhandelings is nou aan die gang met die Grondeisekommissaris om oorblywende grondeise ook op te hef.
In die uitleg en beplanning van die hele groot ontwikkeling, word kundig rekening gehou met alle faktore. Nuwe tegnologie sal ook aangewend word om beskikbare watervoorrade optimaal te benut en desnoods te suiwer vir hergebruik. ‘n Verskeidenheid bykomende waterbronne, buite die Albasinidam, word oorweeg vir standhoudende waterverskaffing aan inwoners van die reuse nuwe ontwikkeling.
Me. Grobler sê alles dui daarop dat die totale projek by voltooiing ‘n beduidende positiewe impak sal hê op die hele omliggende area.
Die ontwikkelaars is bedag op die opleidingsbehoeftes wat in die bedryf van die kompleks bevredig kan word en maak reeds voorsiening daarvoor. Verskeie nuwe werksgeleenthede word in die ontwikkeling en bedryf van die gholflandgoed beskikbaar gestel.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
