ADVERTISEMENT:

 

Boetes en selfs tronkstraf oor verklaarde onkruid

 

News  Date: 11 May 2007

 

Grondeienaars is volgens wet verplig om gevaarlike verklaarde onkruide soos Lantana uit te roei.

"Dieselfde verpligting rus ook op munisipale en ander owerhede ten opsigte van grond onder hul beheer, sê bekende landboukonsultant Carel Breytenbach van Louis Trichardt.

Breytenbach, ‘n kenner op die gebied van landbouchemiese stowwe, is genader in verband met die oënskynlik onbeteulde verspreiding van dié lastige indringerplant en ander gevaarlike verklaarde onkruidplante op die dorpsmeent van Louis Trichardt. Die bessies van die plante is gesog onder wilde voëls en word vinnig versprei. Dit is gevolglik belangrik om die plante uit te roei voordat hulle saad maak wat verder kan versprei.

Breytenbach sê die betrokke wet op die bestryding van onkruid maak voorsiening vir boetes en, onder sekere omstandighede, selfs ook vir tronkstraf. In die verlede is die wetgewing streng toegepas met behulp van onkruidinspekteurs, wat verbonde was aan die Departement van Landbou.

Breytenbach sê die padreserwes en aanliggende gebiede in die rigting van Levubu is eweneens ernstig besmet met reuse getalle verklaarde onkruidplante, wat ook die sogenaamde Luisbos (of wilde tabak), Wilde Kasterolie en die uiters aggressiewe groeier bekend as Mauritius Doring (Kraaldoring) insluit. (Laasgenoemde is inheems aan Indië, Sri Lanka en Mauritius.) Die owerhede in beheer van die betrokke padreserwes is ook aanspreeklik vir die bestryding van die onkruide.

Doeltreffende bestryding is moontlik.

Inwoners van die dorp wat op hul erwe probleme met Lantana ondervind, behoort dit vroegtydig uit te roei deur die nuwe jong plantjies onmiddellik uit te trek. Ouer struike sal uitgekap moet word. Chemiese bestryding van groter plante kan baie doeltreffend wees as dit korrek gedoen word. Breytenbach sê onkruidmiddels met die aktiewe bestanddeel Glutosaat (soos Roundup) werk baie goed op jong groeipunte. As die groter plante afgekap word, word die nuwe spruite kans gegee om eers heeltemal te ontvou en dan met die middel bespuit. ‘n Oplossing van nagenoeg 3% is voldoende. Dit is belangrik om die onkruidmiddel met suiwer, skoon water aan te maak en dit toe te dien wanneer die plante sterk begin groei. Bespuiting gedurende die winterrustyd word gevolglik nie aanbeveel nie. Sorg moet geneem word om nie naasliggende tuinplante raak te spuit nie, want dan sal hulle ook vrek. Die betrokke onkruiddoder besoedel nie die grond nie, omdat dit maklik afbreek.

Grondeienaars wat toelaat dat die verklaarde onkruide groei en versprei op grond onder hul beheer, kan by die Departement van Landbou aangegee word.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines