

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 May 2007
Munisipaliteite landswyd het die afgelope tyd letterlik tot stilstand gekom met probleme wat ondervind is met die hernuwing van voertuiglisensies en –registrasies, danksy die regering se nuwe e.NaTIS-stelsel.
Louis Trichardt se inwoners het nie die probleme vrygespring nie en rye en rye mense is verlede week opgemerk waar hulle by die munisipaliteit gestaan en wag het om gehelp te word.
Munisipaliteite gebruik reeds lank die NaTIS-stelsel. Die "nuwe" e.NaTIS-stelsel is basies ‘n opgegradeerde weergawe wat veronderstel is om meer effektief te funksioneer. Die e.NaTIS-stelsel is ‘n register van alle voertuiglisensies- en registrasies, wat beheer vergemaklik.
Volgens van die mense wat ure lank in rye moes staan, het dit ongeveer 45 minute geneem om een persoon te help.
Hiepie Pretorius het verlede Donderdagoggend gesê dat hy van 07:15 al langer as twee ure in die ry staan. Hy was ongelukkig met die munisipaliteit aangesien hulle feitlik niks gedoen het om wagtende kliënte se frustrasie te verlig nie.
Koos Stols het net so lank al in die ry gestaan. Hy moes vir beide homself en sy werk hernuwing kom doen. Koos het gesê sy werk ly onder die "lang wag" en dat dit nou hy is wat aan die einde van die dag moet gaan verduidelik waar hy so lank was.
Joseph Mokgato was behoorlik boos. Ook hy moes baie lank van die werk af bly om vir sy bestuurslisensie te gaan betaal.
Intussen het die Minister van Vervoer, minister Jeff Radebe, aangekondig dat die e.NaTIS-stelse weer vanaf Dinsdagoggend normaal funksioneer. In ‘n mediaverklaring uitgereik deur BuaNews, ‘n regeringsmondstuk, het hy om verskoning gevra vir die ongerief wat veroorsaak is.

ADVERTISEMENT:
